Mighty Men Healing the City: Alle paaie lei na Athlone-stadion

Die Christen-radiostasie, Radio Tygerberg 104FM, het verlede Vrydag sy Mighty Men Healing the City-byeenkoms in Athlone bekendgestel. Die gratis geleentheid, wat op Saterdag 1 November vanjaar plaaasvind, is daarop gemik […]


Die Christen-radiostasie, Radio Tygerberg 104FM, het verlede Vrydag sy Mighty Men Healing the City-byeenkoms in Athlone bekendgestel. Die gratis geleentheid, wat op Saterdag 1 November vanjaar plaaasvind, is daarop gemik om mans van veral die bendegeteisterde gebiede op die Kaapse Vlakte te inspireer en te bemagtig.

Die bekende evangelis Angus Buchan gaan die hoofspreker by die geleentheid wees waar 25 000 mans verwag word.

Die Healing the City-inisiatief het in Junie 2024 begin na aanleiding van ‘n berig dat 121 mense binne net twee weke weens bendegeweld gesterf het. Wat dit egter skokkend gemaak het, was dat die berig op bladsy nege van ‘n Kaapse dagblad verskyn het. Dit was dus nie eens meer voorbladnuus wanneer soveel mense hul lewe op die Kaapse Vlakte verloor nie. As die grootste Christen-radiostasie in die land, het Radio Tygerberg besluit om betrokke te raak.

“Ons kon nie net voortgaan om berigte soos hierdie te lees, maar niks aan die saak probeer doen nie. Die geweld, die lewensverlies en die gebrokenheid op die Kaapse Vlakte het ons aangegryp en so het ons Healing the City-projek ontstaan,” het Hardus Zewenster, uitvoerende hoof van die Bloudruk-groep, waarvan Radio Tygerberg deel is, gesê.

Die beplande Mighty Men Healing the City-byeenkoms is Vrydag aan kerk- en gemeenskapsleiers van die Kaapse Vlakte bekendgestel. Radio Tygerberg werk nou saam met hierdie leiers om maniere te vind om hul gemeenskappe beter te ondersteun, veral ten opsigte van die voortslepende bendegeweld.

“Ons werk reeds ‘n geruime tyd saam en ondersoek oplossings wat noodsaaklike hulp en ondersteuning kan bied aan diegene wat dit die nodigste het. Verlede jaar het ons ook trauma-berading werksessies aangebied om hierdie leiers toe te rus om die daaglikse trauma wat hul gemeenskappe ervaar, aan te pak,” het Rikus van Rooy, stasiebestuurder, gesê.

Die Mighty Men Healing the City geleentheid sal ‘n inspirerende byeenkoms wees, wat mans sal toerus en bemagtig om hul rolle as leiers en pa’s in die gemeenskap op te neem. Die geleentheid sal poog om hoop en verandering te bring na ‘n deel van Kaapstad wat daagliks deur bendegeweld en ander maatskaplike uitdagings geteister word.

Buchan se boodskappe van geloof, hoop en genesing het wêreldwyd duisende mense geïnspireer.

“Ek glo van harte dat die mans van Kaapstad die potensiaal het om hul gesinne en gemeenskappe na genesing en herstel te lei. Ek is opgewonde om deel te wees van hierdie beweging wat hoop bring na ‘n stad wat dit nou broodnodig het. Deur Mighty Men Healing the City herinner ons mans aan hul God-gegewe doel en die positiewe impak wat hulle op ander in hul omgewing kan hê,” het Buchan gesê.

Benewens Buchan sal ander prominente sprekers in die komende weke aangekondig word. Die Stad Kaapstad is ook betrokke by hierdie geleentheid, aangesien daar ‘n dringende behoefte is om diepgewortelde maatskaplike kwessies wat die stad impakteer, aan te pak. Die Healing the City-inisiatief het ten doel om ‘n beweging van transformasie te inspireer, waar mans bemagtig sal word om met integriteit te lei, gesonde verhoudings te bou en by te dra tot die herbou van hul gemeenskappe. Deur hierdie geleentheid beoog die stasie en sy vennote om verandering teweeg te bring, een man op ‘n slag.

Die geleentheid begin om 14:00 en duur tot 18:00. Dis gratis, maar sitplekke moet bespreek word by www.iTickets.co.za. Gratis vervoer sal ook beskikbaar wees na en van die stadion.

You need to be Logged In to leave a comment.