Mia Crous, ’n haarstilis van Durbanville, spog met haar derde goue toekenning in die nasionale Global Creative Awards-kompetisie.FOTO: Erina Crous


Mia Crous (30), veelbekroonde haarstilis van Durbanville, het ’n driekuns behaal toe sy vanjaar vir die derde jaar goud behaal het in die nasionale Global Creative Awards-kompetisie en is onlangs ook as die landwye “Creative Cutter of the Year” in dié fotokompetisie van Goldwell in Duitsland aangewys.

Die Global Creative Awards gee erkenning aan haarstiliste wêreldwyd vir uitsonderlike vaardighede, prestasies, vernuf en hul bydrae tot die haarbedryf. Die beoordeling vir hierdie uiters gesogte toekennings word deur ’n internasionale paneel van kundiges in Duitsland gedoen.

Sy moes ’n portefeulje van een foto ingestuur en kon haar eie inisiatief gebruik. Die wenfoto is geneem deur Elizma Hayman.

Mia, ’n oud-Durbie en haarstilis by Erina’s Hair & Beauty in Durbanville, se wenkultuur en blootstelling op internasionale vlak begin reeds as eerstejaarstudent aan die Northlink-kollege in Parow.

Slegs een per land gekies

Terwyl sy nog ’n student was, het sy die nasionale “World Skills”-kompetisie plaaslik gewen en haar Springbok-kleure verwerf. Sy het daarna vir Suid-Afrika by die internasionale kompetisie in Sao Paulo in Brasilië verteenwoordig. Slegs een haarstilis per land is vir dié kompetisie gekies.

Dié foto van Mia Crous se model, Tanya van der Ryst van Welgemoed, het haar die prys besorg.FOTO: Elizma Hayman

Sy het haar kwalifikasies in haarkappery in 2017 bekom en was daarna in 2018 die nasionale wenner van dieselfde kompetisie waarin sy nou presteer het, wat toe bekend was as die Goldwell Color Zoom-kompetisie. Sy het daarna haar land in Kanada verteenwoordig.

Kenmerkend van haar deelname aan kompetisies, is haar betrokkenheid by elke aspek van die projek. Sy doen self die grimering van haar modelle, sy besluit oor die uitrustings en sy neem leiding by die fotografiesessies met die keuse van agtergrond, posisionering en beligting.

Dit is in haar ma en mentor, Erina, se salon, Erina’s Hair and Beauty, waar sy baie ure spandeer met haar voorbereiding vir projekte.

Sy is ook ’n kunstenaar in eie reg met ’n meesterlike kunswerk van ’n Nguni-bees, wat tans by in die Simonsvlei-kunsgalery vertoon word. Sy leef ook haar passie uit met hierdie kunswerk uit in haar gunsteling-medium van “gold leaf”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article