Soos die belastingseisoen nader kom, doen Mould Empower Serve (MES) ’n beroep op die gemeenskap en vrygewige skenkers om ’n blywende verandering in die samelewing te maak.
Enigeen se bydrae ondersteun nie net MES se kritieke programme nie, maar bied skenkers ook die geleentheid om waardevolle belastingvoordele te geniet.
Hoekom nou skenk?
Met die intrapslag in 2025 stel MES sy gereedheid bekend om lewens wat deur haweloosheid, armoede en maatskaplik-ekonomiese uitdagings geraak word, te transformeer.
Tog staan nie-winsgewende organisasies soos MES by ’n kritieke kruispad.
Elke jaar word nie-winsgewende organisasies gekonfronteer met groot begrotingsbesnoeiings deur korporatiewe en breër korporatiewe maatskaplike beleggingsprogramme, wat MES se noodsaaklike dienste in gevaar stel.
“Ons begunstigdes is kwesbaar en is afhanklik van jou finansiële ondersteuning.
“Jou bydrae maak ’n verskil in die lewe van duisende begunstigdes by vier MES-takke landswyd.
“Jou ondersteuning raak die lewens van voorskoolse kinders, skoolgaande kinders, jeug in gevaar, gesinne in krisis en kwesbare volwassenes.”
Só sê Ilse Maartens, bestuurder van MES Kaapstad, aan TygerBurger.
Deur te skenk:
- Geniet jy belastingvoordele: Eis jou skenking as ’n belastingaftrekbare bydrae en verminder jou belasbare inkomste;
- Maak jy ’n blywende impak: Jou ondersteuning help om die lewens van kinders, jeug, volwassenes in gevaar en gesinne in nood te transformeer;
- Skep jy ’n hoopvoller toekoms: Elke skenking, groot of klein, dra by tot betekenisvolle verandering nou en vir toekomstige geslagte.
Hoe werk dit?
As ’n geregistreerde openbare voordeel-organisasie (PBO) kan MES ’n Artikel 18A-sertifikaat vir skenkings uitreik.
Hierdie sertifikaat stel die skenker in staat om belastingaftrekkings vir bydraes te eis.
“As jy reeds jou skenking gemaak het, wees gerus dat sertifikate in Maart aan die einde van die boekjaar uitgereik sal word,” verseker Maartens.
Om jou sertifikaat aan te vra, kontak Clarina Hanekom by die Kaapstad-tak via prcapetown@mes.org.za en sluit jou adres in.
MES se kalender vir 2025
- Mei tot Julie is MES se Winterhoop-veldtog. Dit is ’n landswye kollektiewe inisiatief wat daarop gemik is om gedurende die koue wintermaande hulp te verleen aan die mees kwesbare mense en gemeenskappe. Dit behels die insamel van bruikbare warm klere, komberse en nie-bederfbare voedselprodukte.
- Julie – Mandela-maand / Mandeladag: MES nooi ondernemings om hul tyd te kom bestee by hul Bellville-, Durbanville- en Parow-sentrums deur kos op te dien, nodige herstelwerk te doen, te kuier of ’n middag met MES-begunstigdes deur te bring.
- 10 Oktober is Wêreld-hawelosedag. MES doen baie bewusmaking om hul aktiwiteite gedurende die tyd te bemark en blootstelling te gee.
- Oktober tot Desember bemark MES Packaged Love: Dit behels die insameling van daaglikse benodigdhede om die Kerstyd geriefliker te maak vir mense in nood.
Dit is eenvoudig en veilig om ’n bydrae te maak via die aanlynskakel.


