MES Durbanville se sentrum was verlede Donderdag stampvol met haweloses op soek na ’n bord warm kos en skuiling teen die koue winterweer.
Personeellede van WP Koerante in Bellville, wat onder meer TygerBurger insluit, het verlede week as deel van Media24 se Volunteers24-program by MES Durbanville gaan uithelp.
Hulle het staalkabinette geverf, danksy ’n skenking van verf deur Spiro’s Mega Mica in Durbanville. Verf is ook geskenk vir die verf van deure en binnemure.
Die personeellede het ook onder meer kleredonasies gesorteer, kos opgedien en hier en daar geselsies met haweloses aangeknoop.
Agter die kospotte was die knap Ferozia Dollie, wat ’n jaar gelede self as hawelose by MES Durbanville aangeklop het. Nou is sy die hart van die kombuis.
In die tweedehandseklerekamer gee Mandy Cloete van Morningstar, wat al drie jaar daar as vrywilliger werk, instruksies oor hoe om die klere te sorteer volgens grootte. Sy het soggens by MES Durbanville begin help terwyl haar kleinkind, wat sy bedags oppas, soggens by die skool is.
“Dit was vir my eie sanity,” vertel sy.
“MES Durbanville benodig veral klere in klein of ekstra-klein groottes omdat haweloses dikwels baie klein van postuur is. Die skenkings van groter klere word egter verkoop ten bate van MES Durbanville of aan ander welsynorganisasies soos Huis Jabes en Anchored Lives Cape Town gegee, sê Franita Knudsen van MES Durbanville. Babaklere word aan Bless a Baby geskenk.
Kontak Franita Knudsen by cptfundraising@mes.org.za met navrae oor hoe om te help.


