No caption found


Die mense wat sê hy is ’n skelm praat “wolhaarstories”, sê die eienaar van ’n konstruksie-onderneming in Bellville.

Die eienaar, Jan van Niekerk van JJ Construction and Roofing, sê dit is belangrik om te onthou dat elke storie twee kante het.

Sy “slagoffers” wil ander egter teen hom waarsku en keer dat nog mense geld verloor.

Jan, wat ook soms Ian genoem word, is die afgelope paar jaar sterk onder skoot omdat hy glo onvolledige of werk van swak gehalte doen en dan met geld verdwyn.

Die TygerBurger het in die afgelope twee weke met verskeie mense gepraat, wat almal sê Jan skuld hulle tussen R17 000 en R100 000.

‘Beswadder my naam’

Een van dié mense is Theo Robbertze van Boston, wat altesaam R31 836 aan Van Niekerk oorbetaal het.

Hy het Van Niekerk se dienste bekom toe hy vir hulp op ’n Whatsapp-groep vra.

Robbertze sê hy het egter agterna eers besef dit was Van Niekerk wat homself aanbeveel het.

Van Niekerk het baie bekwaam en aangenaam voorgekom en het boonop dieselfde naam as sy oupa, sê Robbertze.

Hy het werk op sy dak verlang en wou ook ’n slootjie langs sy stoep laat installeer.

“Hy sê toe vir my die hele nok moet oorgeseël word. En toe gaan die prys op.”

Later het Van Niekerk glo gesê daar was ’n gedeelte asbes wat verwyder moes word, maar dat hy daarvoor gekwalifiseer is. Die prys het weer gestyg en Robbertze het uiteindelik meer as R30 000 betaal.

“Hulle het die gate vir die sloot begin sny, maar nie teruggekom nie”.

Dit het in daardie stadium baie gereën en die werk kon net wisselvallig plaasvind. Toe hulle klaar was, was Robbertze egter stomgeslaan oor die swak gehalte van die werk.

“Ek sê toe hy moet my maar invoice vir die werk en geld terugbetaal. Dit was seker net R3 000 tot R4 000 se werk.”

Van Niekerk het nooit die geld terugbetaal nie en Robbertze moes al die werk laat oordoen.

Robbertze sê hy sal enige tyd hof toe gaan as dit na iets sal lei.

In reaksie sê Van Niekerk dat Robbertze sy naam beswadder en dat twee kliënte al weens Robbertze se uitlatings sy dienste gekanselleer het.

“Dit is naamsbeswaddering. Hy verhoed dat ek enige geld kan inkry om hom te betaal. Hy ontneem my van my regte en neem kos uit my mond. Mag hy dit doen? Ek gee hom geen reg om dit te doen nie.”

Waarsku

Jeandre Mostert, ’n eiendomsagent van Brackenfell, sê hy het omtrent R100 000 weens Van Niekerk se toedoen verloor – R50 000 wat hy betaal het en R50 000 wat hy moes betaal om dit te laat oordoen.

Mostert het op Facebook vir die kontakbesonderhede van ’n betroubare bouer gevra en is deur ’n vrou gekontak wat Van Niekerk se besonderhede gedeel het. Hy het eers later besef die vrou is Van Niekerk se vrou.

“Hy was baie professioneel. Toe hulle begin werk, was alles fine.” Van Niekerk het aan die begin gesê wat hy nodig het en Mostert sou dit dan koop sodat Van Niekerk dit kan gebruik. “Dan betaal ek hom soos hy klaarmaak.”

Maar toe raak dinge besig en Van Niekerk bel toe vir Mostert waar hy glo in ’n winkel staan. Hy het gesê hy kan materiaal teen ’n goedkoper prys kry. “En toe betaal ek vir hom R13 000 oor. Toe is hy gone.”

Ná hierdie punt het Van Niekerk glo nie weer opgedaag nie. “Dit was een verskoning op die ander. Hy het die hele tyd verskonings gehad, soos dat sy pa siek is en dat sy pa oorlede is.”

Mostert het ’n ander koerant, TheDaily Voice, gekontak en sê sedert die berig vroeg 2022 geplaas is, word hy nog dikwels gekontak. “Ek wil net vir ander waarsku om nie vir hom werk te gee nie. Hy weet wat hy skuld; ons het bewyse van alles.”

Van Niekerk sê Mostert kan daai geld “op sy maag skryf” en dat daar “baie werk daarin is. Die mooi werk is nie (in die berig) vermeld nie.” Hy sê sy pa is nie oorlede nie, maar sy skoonpa wel.

Van Niekerk het aan TygerBurger gesê hy (Mostert) moet eerder stilbly.

“Omdat jy ’n dametjie is, kan ek jou nie presies vertel wat ek wil sê nie.”

Nog ’n slagoffer, Elette Fouche, sê sy het dae lank “getraumatiseerd wakker gelê” oor wat gebeur het.

Sy het werk aan haar dak benodig. Sy sê Jan het nooit persoonlik na haar huis kom kyk nie, maar gesê hy het ’n rekenaarprogram wat hy gebruik wat vir hom inligting gee. “Hy stuur ’n kwotasie sonder dat hy kom kyk. Hy het my gedruk om die kwotasie te aanvaar, want hy kon glo plate wat hy bestel het, goedkoper afgelewer kry”.

Sy het R17 000 aan Van Niekerk betaal om onder meer ’n geut te vervang.

You need to be Logged In to leave a comment.