Stokperdjies. Dis daai woord wat klink soos iets wat jy by ‘n dokter moet gaan laat ondersoek, maar eintlik is dit bloot iets wat jy in jou vrye tyd doen vir genot en ontspanning — nie vir geld of plig nie.

Nou ja, as stokperdjies iets met identiteit te doen het, dan is my man se identiteit iets tussen ‘n musikant, ‘n visserman, ‘n Tour de France-fietsryer en ‘n vleis-evangelis.

En dié identiteit verander soos die wind waai. Ek het hom sewe jaar gelede ontmoet, en sedertdien het hy stokperdjies soos sokkies uitgeruil — elke tweede jaar is daar ‘n nuwe een, en elke keer moet dit ‘n produksie wees.

Eers was dit kitaar. Nie sommer enige kitaar nie — ‘n Ibanez. Want jy weet, ‘n gewone kitaar gaan hom seker nie die volgende Idols-wenner maak nie. Die lesse, die pedale, die tuners — ek het gevoel soos ‘n “roadie” in my eie huis.

En toe, net toe ek begin onderskei tussen ‘n akkoord en ‘n arpeggio, raak hy stil … en die volgende oggend staan daar ‘n visstok teen die yskas.

Visvang. Daardie stokperdjie wat, volgens hom, sy “Zen-tyd” is. My “Zen-tyd” is ‘n warm bad met laventelolie en stilte. Syne is om 04:00 op te staan en by die see in die koue te gaan sit. Ek moes lag — nie uit spot nie, maar van skok, toe hy terugkom met ‘n vis wat ek met my hand sou kon uitdruk soos tandepasta. Ek het gesê dis ‘n sardientjie se kleinsus, en hy het haar laat gaan met groot respek. Catch and release, sê hy. Ek sê maar niks.

Toe kom die fiets. Daai ding met twee wiele en vyf keer my maand se huur in onderdele. Helm, waterbottel met GPS, lycra kortbroek …en toe begin hy vleis eet. Net vleis. Vir ontbyt, middagete en aandete. “Ek’s nou op ‘n karnivoordieet,” sê hy, terwyl hy ‘n ribbetjie opwarm vir padkos.

Dis maklik om te lag — en ja, ek lag gereeld — maar dan kyk ek weer. My man is gesonder as ooit. Hy slaap soos ‘n stomp, dink helder en het energie soos ‘n kind op stroop. Hy sê sy stokperdjies gee hom lewe. Hy’s kalmer; sy rug pyn nie meer nie.

En al lyk hy soos iets uit ‘n fliek — fietsry, visstok oor die skouer, en ‘n stuk biltong in die hand — het iets in my begin verander.

Want die waarheid? Ek’s jaloers. Nie op sy stokperdjies nie, maar op wat dit vir hom doen – daai gereelde stukkie vrye tyd waar hy doen wat hy wil, waar hy leer, fokus en rus, al is dit op ‘n fiets teen ‘n bult op. Ek het besef: stokperdjies is nie ‘n luukse nie; dis ‘n noodsaaklikheid.

Dis gesondheid op maniere wat pille nie kan koop nie. Dis tyd weg van skerms. Dis om jou hande gebruik, jou gedagtes stil te maak en iets met passie doen.

‘n Stokperdjie, al kos dit ‘n bietjie (baie duur), gee jou terug op maniere wat jy nie kan bereken nie. Dis selfversorging met ‘n glimlag.

En ek? Ek het my eie stokperdjies begin eerbiedig: slaap, rus en vrede. Ek noem dit “sielkundige rehabilitasie met laventel en ‘n boek” – dis goedkoop, dis effektief, en dit werk.

Maar wie weet, dalk probeer ek eendag visvang (sonder om 04:00 op te staan), of dalk koop ek vir myself ‘n tweedehandse kitaar.

Want om weer iets nuuts aan te leer, kan dalk net my eie comeback wees.

Laat ons nie onderskat wat ‘n stokperdjie vir jou gesondheid kan doen nie. Dis dalk nie net ‘n tydverdryf nie — dis dalk jou siel se medisyne.

– Jo Fourie

LEES OOK: Ek is ’n Afrikaan: Jo Fourie oor identiteit en aanvaarding

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article