Het ons nou die gewraakte era van “post truth” bereik?
Agt jaar gelede toe Donald Trump vir die eerste keer probeer het om die Amerikaanse president te raak (hy was suksesvol) het die term in die openbare diskoers inslag gevind.
Hy probeer nou weer en wanneer hierdie rubriek verskyn, is hy dalk weer die president.
Die gesaghebbende Cambridge-woordeboek beskryf “post truth” as volg: “Relating to a situation in which people are more likely to accept an argument based on their emotions and beliefs, rather than one based on facts.”
Tydens die Covid-pandemie is ons daagliks oorval deur “nuwe” inligting wat van “geheime bronne” ontvang is.
Wanneer die verspreiders van die inligting op die bewese feite gewys is, het hulle gesê die inligting is versin.
“My neef ken ’n ou wie se broer vir die regering werk en hy het dit by die minister se skoonmaker gehoor.”
Persoonlik het ek in ’n stadium aanvaar dat ek nie almal kan oortuig nie en Godswater oor Godsakker laat loop. Soms was die verkeerde inligting wat rondgeslinger is so oorweldigend dat ’n mens amper half in jouself begin twyfel het.
Met die koms van kunsmatige intelligensie (KI) is die “post truth”-fenomeen besig om in felheid toe te neem.
Selfs die mees basiese KI-meganisme kan goed genereer wat jou laat glo dit is die ware Jakob.
Jy kan mense se stemme en beelde byna perfek namaak. Dit is moontlik om iemand se foto so te manipuleer dat daardie persoon self twyfel aan die egtheid daarvan.
Selfs in die joernalistiek het KI-tentakels sy inslag gevind. Die veelgeroemde Sports Illustrated is uitgevang dat hulle artikels geplaas het wat deur KI gegeneer is. Hulle het uiteindelik hul lisensie verloor om te publiseer.
Dit beteken dat die skeidslyn tussen die waarheid en leuens elke dag vervaag. Sommiges bied KI-gegenereerde materiaal aan om ander te beswadder of hulle in onvleiende situasies te plaas.
Die superster-sangeres Taylor Swift moes onlangs walgooi omdat Trump ’n sogenaamde “deep fake” foto van haar aanlyn gelaai het van hoe sy hom as presidentskandidaat steun.
“Deep fakes” word ook deur veral politici gebruik om hulself te verdedig wanneer hulle met die hande in die kasregister of met hul broeke op hul knieë betrap word.
So is ’n regeringsamptenaar van Ekwatoriaal-Guinee, Baltasaar Ebang Engonga, uitgevang dat hy seksuele verhoudings met meer as 400 vroue aangeknoop het. Die meeste van die vroue was wederhelftes van sy kollegas. Selfs die eerste minister en die weermaghoof se vroue is nie ontsien nie.
Kapokhaan Engonga het al sy bedgimnastiek op video opgeneem en nou het dit uitgelek. Dit kan verrykende gevolge vir die Adonis inhou en hy gebruik toe die nou gewilde verweer: “Dit is nie ek in daardie video’s nie. Dit is my vyande wat die ‘deep fakes’ gemaak het om my by te kom.”
Sterkte Meneer Engonga om met daardie verduideling verby jou vrou en kollegas te kom. Ons glo jou (oogknip). – Brenden Ruiter