Terwyl ek hierdie rubriek skryf, val die reën op die dak en die wind stoei buite.
Wanneer dit reën hou ek daarvan om die ander geluide in my huis stil te maak en net te luister na die natuurlike klanke.
Die klikklak van die reën op die dak hou ’n snaakse bekoring vir my in.
Dit laat my aan my pa dink. Hy was ’n musiekmens en was vir jare lank dirigent van kore en orkeste. As kind kon ek my verkyk aan sy manier hoe hy deur ’n klein beweging van sy hand ’n koor aanmoedig om by sekere gedeeltes harder of sagter te sing, of die tenore ’n oktaaf hoër te laat gaan.
Met die klop van sy een voet het hy saggies ritme gehou. Dit was sulke delikate bewegings en soms het ek my meer verkyk aan wat hy doen as om na die koor te luister.
As dit reën verbeel ek my iemand dirigeer die natuur. Wanneer daar sagte druppels op die dak val is dit tip-tip-tip. Ná ’n ruk word dit swoesj-swoesj-swoesj.
En dan as daar poele water buite gevorm is, en die nuwe reën val daarin is dit klienk-klienk-klienk.
Die “dirigent” kommandeer dan die wind as agtergrondsanger wat deur die bome fluit. Soms bring hierdie gefluit ’n vals noot wanneer ’n dakplaat of twee begin saamsing of ’n leë blik straataf-klingel.
Wanneer ’n storm woed, soos tans in die Kaap, sal jy die bastromme van die donderweer in die verte hoor om bietjie oemf aan die simfonie van die natuur te gee.
Is dit nie lekker om in die beskutting van jou eie huis na die wonders van die natuur te luister nie? Dit is beslis.
Op die eerste dag van skool vir die derde kwartaal neem ek my seun skool toe in Kuilsrivier. Onderweg skool toe sien ons gewoonlik al hoe meer mense wat in tente of enige strukture langs die pad woon.
Gewoonlik is dit sommer net plastiek en ’n paar palette wat saamgeflans is om ’n bietjie weerstand teen die elemente te bied. Naby die hospitaal in die hoofstraat het ek al ’n ou gesien wat net op ’n matras slaap met ’n stuk plastiek as enigste beskerming.
Op pad skool toe, terwyl die wind woedend aan my motor pluk en my ruitveërs sukkel om die reën van my ruite af weg te hou, skakel ek die motor se verwarmer aan om die lug in die motor bietjie warmer te maak.
Dít terwyl ek ’n warm sweetpak aan het en my seun die “volle wapenrusting” van sy skool dra.
Terwyl ek moet navigeer deur oorhaastige en roekelose taxi’s en benoude ouers wat voortbeur om hul kinders by die skole te kry, en dan nog betyds by die werk te wees, soek my oë na die mense op die veldjie langs die begraafplaas.
Die materiaal van die strukture wat nog staande is, dans wild in die wind en by ’n ander probeer ’n ou iets las wat duidelik weer deur die wind weggewaai gaan word. Ander neem ek aan, het elders gaan skuiling soek, totdat die ergste verby is … wanneer dit ook al mag wees.
En ek wonder wanneer sal almal van ons die musiek van die natuur op dieselfde manier kan hoor. Sal daar ooit ’n dag kom dat die klanke vir ons almal ewe soet en strelend sal wees?
Die gebed van my hart is dat die Groot Dirigent in die Hemel daardie dag moet nader bring. – Brenden Ruiter

