Meisie van Kraaifontein ontsnap uit ontvoerders se kloue nadat sy terugbaklei

Foto ter illustrasie.

Credit: Roshe Taka

’n Vyftienjarige meisie van Kraaifontein het op Vrydag ’n noue ontkoming gehad toe sy byna naby die N1-brug in Brightonstraat deur twee mans gegryp en in hul voertuig geboender is. 

“Was dit nie dat sy terug baklei het en die man hard tussen sy bene geskop het nie, het sy dalk nie weggekom nie. As ouers sidder ons om te dink aan dié moontlikheid,” het haar pa gister aan TygerBurger vertel.

Die leerder aan die Hoërskool Eben Donges, wie se identiteit beskerm word, het omstreeks 10:45 van die skool af gestap toe die poging tot ontvoering plaasgevind het.

Volgens haar pa stap ’n groepie kinders gewoonlik saam, maar op die dag het sy alleen gestap omdat sy haar rapport vroeër by die skool gaan haal het.

“Sy het in Negende-laan gestap toe sy die swart motor vir die eerste keer opgemerk het. Daar was twee mans in die motor wat haar stadig agtervolg het. Sy het vinnig oor die pad gestap na die winkels daar en gewag vir die motor om verby te ry.

“Toe die motor verby haar ry, het sy weer aangestap en toe sy naby die verkeerslig by die brug kom was die motor skielik weer agter haar. Hulle het voor haar gestop, haar gegryp en agter in die motor probeer druk. Sy het die een aanvaller geskop en geslaan. Dis toe sy hom tussen die bene skop dat sy die deur kon oopruk en weggehardloop.

“Sy het na die BP-vulstasie gehardloop en om hulp gevra. Daar het sy het haar ma gebel en ons het dadelik die polisie ontbied,” sê haar pa.

Met ’n erg getraumatiseerde dogter was die pa ontnugter toe die Kraaifontein-polisie eers om 23:00 daardie aand by hul woning opdaag.

“My dogter was in daardie stadium by ander familielede vir bystand . Ek het die polisiemanne gevra om die volgende dag terug te kom om ’n verklaring by haar te kry, maar drie dae later wag ek steeds.”

Hy sê sy dogter is ly nog aan skok en wil glad nie uit die huis kom om polisiestasie toe te gaan nie.

“Sedert Saterdag het ek telkemale gebel om die Sektor 1-voertuig in die hande te kry. Die een keer wat iemand wel by die stasie die foon beantwoord het, is daar vir my gesê die boodskap sal oorgedra word na die patollievoertuig, maar daar is nie eers gevra vir ’n beskrywing van die motor nie. Ek het nou moed opgegee, en die saak sal seker nou nooit in die misdaad statistiek verskyn nie, maar ek wil ander ouers waarsku.

“So kom gevaarlike misdadigers weg. Ek gaan my opinie van die polisie vir myself hou. Ek hoop dat niks eendag met een van hulle kinders gebeur nie en hulle in die oë van die Suid-Afrikaanse polisie moet kyk nie. Ons kan net dankbaar wees dat my kind veilig is.”

TygerBurger het die provinsiale polisie se mediakantoor genader vir antwoorde en die volgende kommentaar ontvang.

“Neem asseblief kennis dat die familielede van die slagoffer aangemoedig word om die polisiekantoor te besoek om die saak aan te meld. Wanneer ’n klagte geregistreer word, moet die klaer wag vir die polisie om te reageer in ’n poging om die saak vir verdere ondersoek te registreer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article