’n Elfjarige meisie van Bonteheuwel het die modelwêreld met groot fanfare getref deur binne slegs vyf maande reeds twaalf titels te verower.
Skylar Abrahams, ’n gr. 5-leerder aan die Laerskool Klipfontein, het per abuis begin met modelwerk nadat haar oom haar talent raakgesien het.
Martin Abrahams sê hy het ’n modeparade gereël om geld in te samel vir bejaardes in die gemeenskap. “Skylar het deelgeneem en is as eerste prinses aangewys. Daar het ek gesien hierdie kind het talent en het begin om haar in die middae af te rig, sommer in die straat of in die park,” sê Abrahams.
Natuurlike talent
Abrahams het begin om Skylar vir kompetisies in te skryf en kort voor lank het sy die titels begin verower, van Atlantis tot Stellenbosch en oral tussenin. “Sy het natuurlike talent en as sy so aanhou is die wêreld van modelwerk vir haar oop. Haar kop is ook reg aangeskroef en sy is nederig, wat ’n goeie ding is,” sê Abrahams.
Skylar se rolmodel is die huidige Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux. “Sy is ’n groot inspirasie vir my en toe ek haar op die televisie sien, het ek geweet dit is wat ek eendag wil doen,” sê sy.
Abrahams sê as ’n baba was Skylar baie siek en was sy in ’n stadium in ’n koma, en dit is waarom sy by Le Roux, wat doof is, aanklank vind.
Skylar gaan in April aan die National Pageantry Festival in Johannesburg deelneem en daarvoor het sy geld nodig. Om geld in te samel vir haar reis en verblyf in Johannesburg het Abrahams ’n Mej. Herwinningsgeleentheid gereël, waar modelle in klere wat van herwinningsmateriaal gemaak is, gaan paradeer.
“Ek wil haar nie hierdie geleentheid ontneem nie deur te sê daar is nie geld nie; ons gaan alles probeer om haar in Johannesburg te kry, want sy verdien dit,” sê Abrahams.
Indien jy vir Skylar wil help om haar drome te bewaarheid, stuur ’n boodskap aan Abrahams by 081 246 2346.