Meisie kry op die nipper geld om oorsee te gaan

Die drome van ’n 17-jarige meisie van Conifers naby Eersterivier was so amper aan skerwe toe sy nie genoeg geld kon insamel om op ’n netbaltoer na die Verenigde Koninkryk (VK) te gaan nie.


Die drome van ’n 17-jarige meisie van Conifers naby Eersterivier was so amper aan skerwe toe sy nie genoeg geld kon insamel om op ’n netbaltoer na die Verenigde Koninkryk (VK) te gaan nie.

Ngozi Blessing Anika Okonkwo, ’n leerder aan die Hoërskool Soneike, is gekies om saam met die Southern Cape-sporttoere in die VK te gaan speel. Die R46 000 wat sy egter moes insamel om die toer mee te maak, het soos ’n berg voor haar gelê. “Ek en my ma het begin woeker en het kos en ander goed verkoop. My ma het ook vir my oom se werksmense kos gemaak en dan het hulle betaal. Ten spyte van al ons pogings, kon ons nie die verlangde bedrag bymekaar kry nie,” sê Ngozi, wat by die huis Anika genoem word.

Hulle het aan elke denkbare deur geklop, maar niemand kon hulle van veel hulp wees nie. E-posse aan verskeie mense, onder wie politici, het onbeantwoord gebly of is met negatiewe terugvoer beantwoord.

In ’n laaste desperate poging het Anika op TikTok ’n boodskap aan ’n raadslid in Gauteng gestuur. Hulle was nog R17 000 kort en haar drome sou aan skerwe wees as sy nie die geld gekry het nie.

Die raadslid, Juwairiya Kaldine, sê in ’n Facebook-plasing sy het die boodskap ontvang dat Anika die geld wat sy reeds betaal het, sou verbeur as sy nie die verskil kon bybring nie.

“Die les in die storie is dat sy 1 000 km weg is, maar sy het steeds haar kans gewaag om my te nader. Daar is baie dae wat ek self voel ek wil opgee, maar daar is mense wat op ons staatmaak en ons weet dit nie eens nie.

“In my lewe het ek een persoon nodig gehad om in my te glo en Anika het ook een mens nodig gehad om in haar te glo,” sê Kaldine.

Anika sê Kaldine het ook haar bêrekoopgoed betaal en van die laaste ander uitgawes gedek.

“Ek het hoogtevrees, maar ek sien daarna uit om vir die eerste keer in ’n vliegtuig te klim. My plan is om goed te speel, maar ook my tyd in die buiteland te geniet,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.