’n Elfjarige meisie van Elsiesrivier, wat deur ’n man in ’n vlugtende motor raakgery is, is verlam.
Devoney Gilbert, ’n gr. 5-leerder aan die Laerskool Leonsdale, is verlede week raakgery deur ’n man wat van bendelede probeer vlug het.
Volgens beskikbare inligting het die man, wat in ’n rooi Volkswagen Golf gery het, ’n hond wat hy gekoop het in Elsiesrivier gaan oplaai.
Met sy aankoms het vermeende bendelede hom aangeval en hy het op die vlug geslaan. Gemeenskapslede het die bendelede verwilder en sy motor aan hom terugbesorg, maar toe het die bendelede sy motor met bakstene bestook.
Hy het paniekbevange probeer wegry, waarna hy Devoney, wat langs hul wendyhuis gestaan het, getref het. Sy is met ’n ambulans na die hospitaal gejaag.
Imraahn Mukkadam van die Elsiesrivier-gemeenskapspolisiëringsforum (EGPF) sê dit is hartseer dat ’n jong meisie nou moet ly weens die gedrag van bendelede.
“Die feit dat die ongeluk gebeur het terwyl die man van bendelede gevlug het, is net so skokkend.
“Ons as die GPF is gewalg deur die gedrag van die bendelede en is bekommerd oor die meisie se toestand.
“Dit is onaanvaarbaar dat besoekers aan Elsiesrivier geteiken word en dit ondermyn die goeie werk wat deur al ons gemeenskapstrukture, soos die buurtwag en sektorforums, gedoen word,” sê Mukkadam.
Danielle Cargnelutti, woordvoerder van die Rooikruis-kinderhospitaal, het by navraag bevestig “dat ’n kind wat daardie beskrywing pas” in die hospitaal opgeneem is en die nodige behandeling ontvang.
“Om vertroulikheidsredes kan ons ongelukkig nie meer inligting oor die pasiënt bekend maak nie,” sê Cargnelutti.