Een van die skilderye wat Sakkie Lawrence geverf het.


Toe ’n gemeenskapskunstenaar van Leonsdale in Elsiesrivier verlede week sy laaste asem uitblaas, het sy familie meer as 500 skilderye in sy kamer gekry.

Sakkie Lawrence het bekendheid in veral Leonsdale verwerf deur sy gemeenskapsdiens, wat ingesluit het die verfraaiing van die buurt. Hy en ander het onwettige stortingsterreine in tuine omskep en mure wat deur bendes met graffiti bemors is, oorgeverf. Sy kleurvolle muurskilderye was orals te sien.

As jy vandag nog met Francie van Zyl-rylaan afkom, sal jy sy handewerk sien teen mure wat aan die pad grens.

TygerBurger het op 23 Junie 2021 (“Vaal muur in skildery omtower”) oor Lawrence se gemeenskapswerk berig.

 Sakkie Lawrence

Een van die skilderye wat Sakkie Lawrence geverf het.

Lisa Fortuin, sy susterskind, het TygerBurger van sy heengaan laat weet. “Kanker is jare gelede by hom gediagnoseer en hy het baie pyn verduur. Ten spyte van sy pyn het hy nooit ophou skilder nie. Dit was waarvoor hy lief was; dit was waarvoor hy gelewe het. Die laaste week voor hy gesterf het, het hy van die pyn gekreun, maar hy het steeds aanhou skilder. As jy in ons huise kom, is daar oral van sy werke te sien. Dit is wat ons van hom oorhou,” sê Fortuin.

LEES | Vaal muur in skildery omtower

Fortuin sê hulle hoop die skilderye wat Lawrence agtergelaat het, kan vir die gemeenskap iets beteken.

“Hy was baie gekant teen bendes en hul bedrywighede en daarom voel ons dit sal gepas wees as sy nalatenskap gaan help om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Die familie het nog nie finaal besluit wat presies om te doen nie, maar wat ons wel weet, is dat ons wil hê sy werk moet voortleef. Dalk skenk ons dit vir ’n gemeenskapsorganisasie en kan hulle dit met vrug aanwend,”

sê Fortuin.

Franceschka Walker, raadslid vir Leonsdale, sê Lawrence se sterfte gaan ’n groot leemte laat. 

“Dit is voorwaar ’n hartseerdag vir die inwoners van Leonsdale. Lawrence het ’n merk in ons harte en in ons gemeenskap gemaak. Hy laat sy muurskildery na, waarmee ons hom sal onthou. Daar is muurskilderye van hom op verskillende plekke – ook in die biblioteek en die traumakamer by die polisiestasie. 

“Ek is reeds sewe jaar ’n raadslid hier en daardie skilderye lyk asof dit vandag gedoen is. Ons is bly dat hy veilig in die arms van die Here is en hoewel ons hartseer is, is ons bly dat ons paaie met syne gekruis het,” sê Walker.

Lawrence word eerskomende Saterdag ter ruste gelê. 

You need to be Logged In to leave a comment.