Lede van Tygerberg Meals on Wheels se breigroep het onlangs ‘n besoek aan Malmesbury in die Swartland afgelê, waar hulle van hul gebreide artikels aan senior burgers geskenk het.
Die groep het die plattelandse dorp verlede Dinsdag besoek om van hul komberse en serpe aan seniors by die Malmesbury Meals on Wheels se tak te oorhandig.
Anne-Marie Watt, bestuurder, sê die groep is jare gelede deur haar en Corrie Swart, ‘n lid, op die been gebring en die breigroep het oor die jare heen tot 20 lede gegroei.
“Ons grootste missie in die breigroep is om elke jaar minstens een of twee behoeftige instansies te seën met 100 gebreide en gehekelde kniekomberse.
“Ons het ook al beanies en serpe aan diesulkes besorg.
“Ons is tans besig met ons sesde besending komberse, bedsokkies en beanies. Van die instansies vir wie ons al geskenk het, is in Khayelitsha, Nuweland en Struisbaai.
“Ons vra die publiek om asseblief vir ons wol te skenk. Sonder hierdie skenkings kan ons dit nie doen nie. Ons gebruik enige wol. Ons kan nie kieskeurig wees wanneer daar harte van goud is wat vir ons skenk wat hulle ook al in die huis het nie,” sê Watt.
Sy het ook die organisasie se donateurs vir hul vrygewigheid bedank.
“Dit is julle wat vir ons die paaie gelyk maak en ons help om voort te gaan met die projekte.”
Tygerberg Meals on Wheels is geleë in Weimarstraat, Parow.
Skakel 083 375 0246 met navrae.