Chad-lee Polman is verlede week doodgeskiet. Hy word volgende week begrawe.
Chad-lee Polman is verlede week doodgeskiet. Hy word volgende week begrawe.

Die ma van ‘n Hoërskool Kleinvlei-matrikulant, wat verlede week naby aan sy ouerhuis doodgeskiet is, het Vrydag die moeilike taak gehad om sy liggaam by die lykshuis te gaan uitken.

Die 19-jarige Chad-lee Polman het aan ‘n enkele wond bokant sy hart beswyk nadat hy in Park Village, Eersterivier, geskiet is.

Sy ma, Cindy-lee Polman (41), sê dit voel asof haar hele hart uit haar borskas geruk is. “Hy was my oudste kind en die liefde van my lewe. Hy het self soveel drome gehad en ons het ook drome vir hom gekoester en nou is hy so wreed van ons weggeruk. Ek is stukkend, stukkend, stukkend,” sê Cindy-lee.

‘n Rustige seun

Volgens Cindy-lee was haar seun ‘n rustige kind en ‘n allemansvriend. “Hulle het ‘n roudiens by die skool gehou en sy klasonderwyser het aan my gesê hulle weet nie hoe hulle sal kan aangaan as die skool begin nie. Hy was die hart en siel van daardie klas en sy dood het die skoolgemeenskap tot in hul fondamente geskud,” sê sy.

Op die dag

Oor wat op daardie noodlottige dag gebeur het, sê Cindy-lee sy verstaan nie hoekom dinge so moes uitspeel nie. “Dit het die hele dag gereën en hy was die grootste deel van die dag binnenshuis. Hy het egter op ‘n tydstip besluit om na die huiswinkel [hier naby] te gaan. Hy het ‘n vriendin ontmoet en het ‘n entjie saam met haar gestap toe twee onbekende mans met kappies op hulle genader het. Die een het ‘n vuurwapen uitgepluk en hom geskiet. Daar was nie eens ‘n stryery of bakleiery nie. Ek was by die werk toe ‘n vriendin my bel en sê ek moet sommer by die hospitaal afklim. Met my aankoms het ek baie bekende mense gesien, onder wie my seun se vriende en meisie. In my kop was dinge nie so ernstig nie. Ek het in die gang afgehardloop om my seun te soek, maar kon hom nie opspoor nie en wou van my kop af raak. Ek het gedink hy lewe nog. Speurders het my in ‘n kamer ingevat om my die mee te deel dat my seun beswyk het,” sê die bedroefde ma.

Matrikulant

Die skool het in ‘n skrywe deur die skoolhoof, Teresa Jones, die dood van Chad-lee betreur. “Ons is geskok en hartseer oor die hierdie tragiese voorval. Ons hele skoolgemeenskap is deur die dood van hierdie geliefde leerder met soveel potensiaal geraak . Hy het soveel dryfkrag gehad om suksesvol te wees en sy skoolloopbaan ten spyte van alle uitdagings te voltooi. Wanneer die skool vir die derde kwartaal heropen, sal die leerders berading ontvang,” lui die skrywe.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en ‘n beroep word gedoen op enigeen met inligting oor die moord om die Kleinvlei-polisie te kontak.

Chad-lee Polman is verlede week doodgeskiet. Hy word volgende week begrawe.
Chad-lee Polman is verlede week doodgeskiet. Hy word volgende week begrawe.

LEES OOK: Tiener vermoor meisie nadat sy hom nie wou soen nie

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article