Alan Gray en sy maat, Lee-Anne Schoeman, op die aand van die matriekafskeid.


Hoe snaaks sou dit nie wees om in boksies deur ’n takealot-trokkie by die matriekafskeid afgelaai te word nie?

Dis wat Alan Gray, ’n matriek-leerder aan die Hoërskool Brackenfell, homself afgevra het toe hy aan “uit-die-boks” idees begin dink het vir hom en sy matriekmaat se aankoms by die afskeid.

“Ek en my pa het so ’n paar idees bespreek en so drie weke terug eers het ek die gewaagde besluit geneem om die idee na te jaag,” het Alan aan TygerBurger gesê.

Pa Ferdi het e-pos aan Takealot gestuur, en weliswaar het die maatskappy dadelik ingestem om die unieke idee ’n werklikheid te maak.

Die “handelsmerkbestuurder Kendra Hunn het dadelik ingespring om die reëlings te tref. Ek was eers ’n bietjie skepties en senuagtig, maar toe sy my bel en sê hulle is reg vir ’n proeflopie kon ek dit amper nie glo nie,” sê Alan.

Die proeflopie het by Takealot se oplaaiplek in Ridgemont Park plaasgevind.

“Dit was ongelooflik wat hulle als gedoen het. Die lewensgrootte boksies is spesifiek vir die aand gemaak om in die trokkie met die spesiale aflaaitrap te pas, en Takealot-manne was gereed vir die goed beplande taak,” sê Ferdi.

Die groot aand het verlede Donderdag aangebreek by die Kelvin Grove-klub in Nuweland.

Opgetof en reg vir die groot makietie het Alan en sy maat, Lee-Anne Schoeman, die Takealot-span buitekant die klub ontmoet waar hulle agter in die boksies op die trok geklim het.

Alles het glad verloop behalwe vir die wag by die klub se hek wat nie die trokkie wou deurlaat nie.

“Hy het vir ons gesê net matriekvoertuie mag deurkom. Ek moes vinnig hol om aan hom te verduidelik wat aangaan. Heel skepties oor die saak het hy hulle toe maar deurgelaat.

“Die mense was vreeslik nuuskierig toe die Takealot-trokkie by die voordeur stop. Van die mense het gedink dis dalk ’n laat aflewering en kon hul oë nie glo toe die twee groot bokse uit die trok gelaai word nie; en nog minder toe Alan en Lee-Anne te voorskyn kom,” sê Ferdi, wat bygestaan het om ’n video te neem.

En toe begin almal lag en juig.

Die video wat Ferdi dieselfde aand op TikTok geplaas het, het binne drie dae meer as drie miljoen kyke gekry.

“Ek kon dit amper nie glo nie, dit was verstommend! Ek is nie ’n TikTok gebruiker nie en dit was die eerste plasing wat ek nog ooit gemaak het.”

Vir Alan was dit ’n onvergeetlike dag.

“Dit was soveel pret en net ’n lekker ondervinding vir my en Lee-Anne. Nadat die video viral geraak het, het mense my selfs begin vra om hulle te help dink aan idees vir hul kinders wat volgende jaar matriekafskeid hou,” sê Alan. 

You need to be Logged In to leave a comment.