Die Jan Krielskool se matrieks van 2022 het die kersie op die koek gesit met ’n 100%-slaagsyfer.
Dié skool kan nou spog met ’n algehele slaagsyfer vir 2022 van 97% – van graad R tot 12.
“Dit is merkwaardig as ons in gedagte hou dat ons leerders soveel spesifieke leergestremdhede het, en tog steeds so moedig presteer,” sê Gerrit Odendaal, skoolhoof.
Odendaal sê die skool is baie trots op die matrieks se goeie uitslae.
“Hierdie groep leerders was die afgelope drie jaar die ergste ontwrig met die pandemie. Toe hulle in graad 10 was in 2020 met die vlak 5-grendeltydperk, was die graad 10’s van die laaste leerders om na die skool terug te keer.
“Leerders in VOO (verdere onderwys en opleiding) berei vir drie jaar lank voor om die vakke van hul keuse eindelik in die nasionale senior sertifikaateksamen te kan doen.”
Odendaal sê hulle is nie net dankbaar dat al die matrieks geslaag het nie, maar ook dat die leerders se uitslae deurgaans baie goed is.
“Altesame 80% van ons leerders het die sewe vakke, wat op Baccaulaureus-vlak aangebied is, geslaag. Ons het onderskeidings in Afrikaans eerste addisionele taal, Engels eerste addisionele taal, toerisme, besigheidstudies en rekenaartoepassingstegnologie gehad,” sê Odendaal.





