Marcél as nuwe Mnr. SA aangewys nadat sy vrou hom inskryf

‘n Paar jaar gelede was hy Mnr. De Kuilen en nou is hy Mnr. Suid Afrika.


‘n Paar jaar gelede was hy Mnr. De Kuilen en nou is hy Mnr.  Suid Afrika.

Marcél Roux (26), wat in 2016 aan die Hoërskool De Kuilen gematrikuleer het, is Saterdagaand in Midrand uit die top-10 finaliste van dié kompetisie as wenner gekroon. 

Roux en sy vrou, Simoné, woon sedert 2022 in Plattekloof Glen.

Dit was einste vroulief wat hom ingeskryf het vir die kompetisie, wat nooit die sportiewe man se radar sou haal nie.

Hy was by die gimnasium (waar hy deeltyds ’n Crossfit-afrigter is) toe hy ’n boodskap op sy foon gekry het dat sy Mnr. SA-inskrywing ontvang is.

“Ek’t gedink dit kan nie ek wees nie. Toe sit ek een en een bymekaar: dit was my vrou.”

Mnr SA

Marcél Roux by die Mnr. SA 2024-eindronde Saterdag in Johannesburg.

By die huis gekom het Simoné uitgebars van die lag toe hy dit vir haar wys. “Sy het eintlik ’n fout gemaak om my e-posadres in te vul, toe kom dit by my uit. Sy wou dit skelm gedoen het.” 

Roux bieg hy was aanvanklik ’n bietjie kwaad. 

“Hierdie hele proses was so ver buite my comfort zone. Dit is nie hoe ek grootgemaak is nie. Ek het nooit belang gestel in modelling nie en het dit glad nie geken nie.”

Nou is hy dankbaar vir sy vrou se waagmoed. 

“Sy’t iets in my gesien wat ek nie raak gesien het nie. In die proses het ek nogal baie van myself geleer. Soos die cliché sê: ‘Don’t judge a book by it’s cover’. Dit was so met die Mnr. SA-kompetisie.”

Hy vertel die kompetisie was die teendeel van wat hy verwag het. Dit het hom die geleentheid gebied om uit te reik en mense te help. “Ek is so dankbaar daarvoor,” sê Roux.

Sport

Sport was nog altyd sy groot belangstelling. 

Van 2017 tot vanjaar het Roux vir die Brackenfell-rugbyklub uitgedraf.

Hy was die laaste drie jaar kaptein van die eerstespan en kon darem sy 50ste “cap” behaal voordat hy sy aandag na die Mnr. SA-kompetisie moes verskuif, vertel hy. 

Hy is vanjaar ook as die klub se “Sportman van die jaar” en as die “Spelers se Speler van die jaar” aangewys.

Net ná skool het hy ’n rukkie oorsee gaan rugby speel voordat hy ’n driejaarkursus vir ’n diploma in sportbestuur aangepak het. 

Hy het ook ’n kursus in sportmassering gedoen en as ’n persoonlike afrigter begin werk. “Ek het mense gaan sien by hul huise en ook by ’n fisiopraktyk massering gedoen.” 

Nadat hy by ’n maatskappy betrokke geraak het waar hy kinders gehelp het om rugbyvaardighede te ontwikkel, ontdek hy ’n liefde om met kinders te werk. 

Mnr SA

Marcél Roux is vroeër vanjaar as die Brackenfell-rugbyklub se “Sportman van die jaar” en die “Spelers se Speler van die jaar” aangewys.

Die Laerskool Sunningdale het hom nader gehark nadat hy sy CV aan skole uitgestuur het. 

Roux is die skool se sportorganiseerder in beheer van sportkodes soos hokkie en tennis. Hy reël wedstryde en bied ook liggaamlike oefeninge vir leerders van graad R tot sewe aan. 

“My groot doel as Mnr. SA is om die volgende generasie te help bou. Ek het dit ook (Saterdag) op die verhoog gesê. 

“Ek het die geleentheid om elke dag skool toe te gaan, in ’n kind se oë te kyk en jy sien net pure liefde wat uit hul harte straal. 

“Daar is soveel gemeenskappe rondom ons waar kinders nie die voorreg het om soveel liefde te ervaar nie. Hulle identiteit ly as gevolg van die pa-figuur wat nie daar is nie.” 

Roux het onlangs sy pa aan die dood afgestaan. “Dit het my baie geïnspireer om daardie pa-figuur vir kinders te wees.”

Hy vermoed om Mnr. SA te wees gaan sy lewe baie verander. 

“Ek gaan meer uit my gemaksone moet tree … maar dis ’n goeie ding.”

You need to be Logged In to leave a comment.