Twee mans is deur die Kraaifonteinse polisie in hegtenis geneem nadat die voertuig waarin hulle 400 kg dagga vervoer het op die N1-snelweg gerol het.
Die ongeluk het Sondag 26 Januarie omstreeks 22:00 naby die Maroelastraat-brug plaasgevind.
Volgens ’n woordvoerder van Titanium Securitas, ’n plaaslike sekuriteitsfirma, het hul beheerkamer verskeie oproepe ná die ongeluk gekry.
Op pad na die toneel het twee mans verby die gewapendereaksie-eenheid op die snelweg in die rigting van die Maroelastraat-brug gehardloop.
“Die beamptes het nie veel daarvan gedink nie, todat hulle op die toneel aangekom het, en deur ooggetuies ingelig is dat die twee mans van die ongelukstoneel af gevlug het,” sê die woordvoerder.
“Die reaksielede het die twee mans dadelik agternagesit, opgespoor en teruggebring na die ongelukstoneel, waar ontdek is dat die voertuig met 400 kg saamgeperste blokke dagga gelaai is.”
Die Kraaifontein-polisie is ontbied en die verdagtes is aan die polisie oorhandig.