Die temas wat hy in sy jongste projek aangepak het, spruit uit dit wat hy al rondom hom waargeneem het.
Dinge soos mans wat nie oor hul gevoelens praat nie; die vernietigende uitwerking van onverwerkte emosies wat uitbars.
LEES | Kuilsrivier-boorling se kortfilm as beste aangewys
Dit is dinge wat hy ook in sy tuiste in Sarepta sien, vertel Enrico Hartzenberg en is die rede hoekom sy kortfilm, Mr Isaacs, op sy voorstoep verfilm is.
“Ek is van hierdie omgewing. Ek het al gesien hoe mans hier met hul emosies omgaan en hoe hulle ook sokker as ’n outlet vir daardie emosies gebruik.”
Die kortfilm van sowat 20 minute gaan oor ’n jong sokkerspeler (Tauriq). Hy bewaar ’n familiegeheim wat ’n vernietigende uitwerking op hom en sy belowende toekoms het.
Tauriq sukkel om werk te kry, wat daartoe lei dat hy sy manlikheid bevraagteken omdat hy al meer van sy suksesvolle vrou afhanklik is.
Hartzenberg hoop dat die film gesprekke aan die gang sal sit oor hoe mans met hul emosies omgaan.
LEES | Boorling van Sarepta opgewonde om teaterstuk aan sy gemeenskap op te voer
“Tauriq se storie is vir my meer as net ’n film, dit is ’n refleksie van ons samelewing se unspoken struggles.
“Mr Isaacs kom van ’n begeerte om oor die vernietigende krag van unchecked emotions te praat, asook om die broosheid van mans se verhoudings te ondersoek, en hoe generational trauma daartoe bydra.
“Tauriq sit met ’n groot geheim. Die geheim is ’n generational trauma.”
Wat presies die geheim is, wou Hartzenberg nie verklap nie. “Mense moet die film kyk.”
Rolverdeling
Ayden Croy vertolk die hoofrol as Tauriq.
“Hy is van Kuilsrivier. Dit is ook ’n rede hoekom ek hom ge-cast het –omdat hy van die gemeenskap is,” sê Hartzenberg.
“Ek is ook bly om Marlon Swarts aan boord te hê. Hy is van Eersterivier.”
Swarts vertolk die rol van Junior, Tauriq se beste vriend. Amy May speel Junior se vrou (Amy) en Tamia Thompson speel Tauriq se vrou (Aisha).
Croy sê die film kyk na ’n stereotipe maar ook na hoe dit ontstaan het en waar dit vandaan kom. “Mr Isaacs gaan daaroor om die narratief te verander.”
LEES | Kortfilm ’n ode aan oorlede ma
Die film is vervaardig deur Hartzenberg Films. Hartzenberg was ook mederegisseur saam met Crystal Donna Roberts.
“Dit was haar eerste keer om (’n film) te direct en myne ook,” sê hy.
Van die tonele speel af in onder meer Irisstraat. Plaaslike mense is ook ingespan as agtergrond-akteurs soos lede van die sokkerspan.
‘‘Tauriq se storie is ’n rou en eerlike uitbeelding van ons samelewing se kompleksiteite.
“Maak gereed om met die unspoken truths wat ons samelewing vorm, gekonfronteer te word,” sê Hartzenberg.
- Mr Isaacs première op Donderdag 28 November by die MiniMax-fliekteater in die Paarl