´n Man (49) is Vrydagmiddag (22 November) in Monte Vista doodgeskiet. Die motief vir die aanval is vermoedelik roof, het die Wes-Kaapse polisie gesê.
Volgens lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, ondersoek die Goodwood-polisie ´n saak van moord nadat die man glo tydens´n stryery met die verdagtes in Mostertstraat doodgeskiet is. Die voorval het omstreeks 13:30 plaasgevind.
Die voorlopige inligting dui daarop dat die slagoffer met sy aankoms by die huis deur drie onbekende verdagtes in ´n wit Toyota Corolla aangeval is, sê Pojie. “´n Woordewisseling het uitgebreek waartydens een van die verdagtes ´n skoot afgevuur het, en die slagoffer op die sypaadjie naby sy huis vermoor is.”
Hy het skietwonde aan sy bolyf opgedoen.
Pojie het gesê die polisie vermoed die man is vanaf die bank agtervolg en roof is waarskynlik die motief vir die aanval ongeag die feit dat die aanvallers sonder enige kontant op die vlug geslaan het. Die voertuig waarin die verdagtes gevlug het, is glo by ´n parkeerterrein in Parow gevind.
Pojie sê speurders is tans besig om alle moontlike leidrade op te volg om die booswigte vas te keer.
“Die ondersoek duur voort,” sê hy.