Man voor oor moord op Goodwood se Le Roux

Borgtog is nie eergister aan Maasfield toegestaan nie en hy kom op Maandag 19 Februarie weer voor.


Robert Maasfield van Delft het op Maandag 15 Januarie in die Goodwood-hof verskyn vir die mesdood van Jacques le Roux (21) van Goodwood laas jaar.

“Dit was Maasfield se tweede verskyning nadat hy op Maandag 8 Januarie die eerste keer verskyn het en die saak toe uitgestel is tot eergister vir ’n borgaansoek. Hy is die naweek van 6 Januarie deur speursers. Charles Jaftha, die ondersoekbeampte, vanaf Upington-gevangenis na Goodwood vergesel,” het kol. Hennie Rademeyer, woordvoerder van Goodwood-polisie, gesê.

Wyle Le Roux is op Sondag 21 Mei 2017 met ’n mes in die bors gesteek en het beswyk. Hy het ’n vermeende inbreker (die beskuldigde) agternagesit en dié het hom na bewering met ’n mes in die hart gesteek.

Volgens die oorledene se broer, Christian, het hy in die berig wat in TygerBurger verskyn het, gesê dat Jacques vermoedelik gesien het hoe ’n man by bure se bakkie probeer inbreek het.

Dit was kort ná 23:00, met Jacques aankoms by die woonstelblok in Vasco, waar hy saam met sy ma, Beatrix de Witt, gewoon het.

Jacques het die man sowat 100 m tot in Voortrekkerweg agternagesit. Christian het agterna vertel dat hulle op een van die sakeondernemings se kringtelevisie die man en Jacques sien hardloop het, maar kon nie werklik sien wat gebeur het nie.

Sy ma, wat die hek hoor oopgaan het en gehoor het Jacques druk op die toeter, het by die venster uitgekyk en gesien haar motor se deure en die hekke staan oop. 

Sy is ondertoe en het gesien hoe mense in die rigting van Voortrekkerweg hardloop. Sy is in haar nagklere agterna tot in Voortrekkerweg, waar sy afgekom het op Jacques, wat op die oorkantste sypaadjie ineengestort het, het Christian gesê.

Jacques was ’n belowende rugbyspeler van die Hoërskool President en die Goodwood-rugbyklub.

Borgtog is nie eergister aan Maasfield toegestaan nie en hy kom op Maandag 19 Februarie weer voor.

You need to be Logged In to leave a comment.