Hand cuffs


Credit: Getty Images/iStockphoto

Bellville-polisiebeamptes is verheug oor die arrestasie van ’n 47-jarige man nadat hy sedert Januarie tientalle vroulike slagoffers onder valse voorwendsels geteiken het om hul selfone, kontant en soms ook hul voertuie te steel.

Die Bellville-polisie versoek die publiek om gevalle van diefstal wat met die verdagte se modus operandi ooreenstem, so gou as moontlik aan te meld.

Lt.kol. Fienie Nimb, Bellville-polisiewoordvoerder, het die verdagte se modus operandi met TygerBurger bevestig: “Sedert Januarie vanjaar het die Bellville-polisie die tendens opgemerk waarin die swendelaar soggens vroeg enkellopende vroue teiken – soms terwyl hulle in parkeerareas gewag het of as hul by ’n verkeerslig stilgehou het.

“Hy sou sy slagoffers nader en waarsku dat daar glo iets met hul motorbande fout is. Hy was so oortuigend en sal hul laat glo dat dit lewensgevaar inhou en voorgee om by ’n motorwerkswinkel werksaam te wees en dat hy die band teen ’n spesiale prys kan vervang,” sê sy.

Werkswinkel

Die slagoffers word oor die algemeen in die vroeë oggendure genader voor meeste ondernemings se deure vir besigheidsure open.

“Die verdagte sal tipies die slagoffer oortuig om saam met haar in die motor te klim om haar tot by die motorwerkswinkel te vergesel. Hy oortuig dan die slagoffer om kontantgeld vir die nuwe motorband teen afslagprys van sowat R1 500 te betaal.”

Hy stel voor dat hulle die voertuig voor die werkswinkel tot stilstand bring, waarna hy versoek om haar selfoon te gebruik om kamma sy kollega in die werkswinkel te bel en te versoek om die sydeur vir hom oop te sluit.

“Die swendelaar versoek dan die vrou om in die voertuig te wag. Hy sal dan om die hoek van die werkswinkel stap en verdwyn,” sê sy.

Meeste gevalle wat by die polisie aangemeld is, het in Voortrekkerweg in Bellville plaasgevind, sê Nimb.

Swendelaar vasgetrek

Nadat ’n foto van die verdagte oral gesirkuleer was, het inligting vorendag gekom dat die verdagte in ’n blyplek in Bellville-Sentraal tuisgaan.

“Met die polisie se aankoms by die blyplek op Vrydag 28 Junie, is die verdagte gevind en in hegtenis geneem,” bevestig Nimb.

Sy het die spanpoging tussen verskeie Bellville-polisielede, die misdaadvoorkomingseenheid en die speurders geprys.

Nimb het ook waardering getoon vir die samewerking van plaaslike ondernemings vir die beskikbaarstelling van goeie kringbeeldmateriaal van die verdagte, wat gelei het tot sy arrestasie.

Bejaarde slagoffer

Volgens Nimb was die mees onlangse voorval wat tot die verdagte se arrestasie gelei het, die diefstal van ’n 94-jarige bejaarde vrou se Opel Corsa in Oakdale.

“Die verdagte het haar oortuig dat daar fout is met haar wiel en dat hy haar gaan help om dit te vervang. Hy het saam met haar in haar voertuig geklim, waar hy haar beveel het om na sy werkswinkel te ry.

“In Retiefstraat het hy haar beveel om te stop en haar gevra om uit die motor te klim. Hy het met haar voertuig weggery.”

’n Klagte van voertuigkaping is geopen. Ten spyte daarvan dat die verdagte as ’n plaaslike hawelose geïdentifiseer is, “het hy homself as ’n pynlike netjiese Christen en pastoor aan sy slagoffers voorgestel,” het Nimb bygelas.

“In noue samewerking met die departement van justisie is die Bellville-polisie in die proses om die talle diefstalvoorvalle saam te voeg. Sodoende verwag ons ’n goeie vonnis.”

Die Bellville-polisie versoek die publiek om voorvalle van diefstal wat met die verdagte se modus operandi ooreenstem, sou gou as moontlik by speursers. Donevan Gariner by die Bellville-polisiestasie aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.