Man van Welgelegen op Kokkedoor

’n Welgelegen-inwoner is een van die talle kandidate wat binne­kort aan die splinternuwe aflewering van die gewilde werklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam op kykNET gaan deelneem.


’n Welgelegen-inwoner is een van die talle kandidate wat binne­kort aan die splinternuwe aflewering van die gewilde werklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam op kykNET gaan deelneem.

De Wet Visser (37) is een van die reeks se kinkelbraaiers.

“Ek het reeks een van Kokkedoor Vuur & Vlam gekyk en toe ek die inskrywings vir die tweede reeks op Facebook sien, het ek net geweet dit is iets wat ek moet doen. So, binne 15 minute was my inskrywing in,” was sy antwoord op die vraag waarom hy besluit het om aan die kompetisie deel te neem.

Visser werk bedags as ’n verkoopsverteenwoordiger vir Cape Deli, ’n biltongmaatskappy. “Ek is vir seker ’n kok en nie ’n bakker nie. ’n Sjef is ’n kunstenaar; ’n kok is iemand wat ’n liefde het vir kosmaak en ’n bakker is wetenskap.”

De Wet Visser as ’n jong seun agter die braai.FOTO: Verskaf

De Wet skep inhoud oor kos vir sosiale media en sê hy is mal daaroor om resepte te skryf en om met kos te toor.

Hy is ook gevra oor waar sy liefde vir kosmaak begin het.

“My liefde en passie vir kosmaak het op die ouderdom van vier jaar begin en my inspirasie was nog altyd my pa, Derick Visser. Hy is al in die vleisbedryf vir die afgelope 40 jaar. Van my eerste braai as ’n klein seuntjie op ’n braaidrom op ’n kruiwa na ’n outjie wat kosmaak in ’n restaurant in Engeland,” vertel hy.

As kosliefhebber sê hy gebraaide snoek, met soetpatats en varsgebakte brood, is sy gunstelingdis. “Die geure wat jy uit die see kry en om net bietjie peper en suurle­moensap by te sit, gee vir jou smake wat jy nie by ander kosse kry nie.”

Nuwe reeks

Vir Kokkedoor Vuur & Vlam, waarvan die eerste reeks in 2023 uitgesaai is, gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei. Die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha is oor 13 episodes op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en ’n kinkelbraaier.

’n Onthoubraaier het nie formele sjefopleiding en professionele ondervinding nie, maar sy hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Altesame 20 mense neem binnekort aan die gewilde kosreeks deel. “Ek moes besef almal het verskillende agtergronde en verskillende opleiding, maar die dag as jy op die stel begin, is almal op gelyke grond,” beskryf Visser een van sy uitdagings.

Oor die reeks se beoordelaars sê hy: “Ek beskou altyd kritiek as ’n positiewe en nie as ’n negatiewe ervaring nie; ek glo jy kan altyd bou, groei en leer.

“Almal weet ek is ’n groot Bertus Basson-aanhanger – oor sy passie vir wat hy doen en al bereik het, maar in dieselfde asem het ek baie respek vir Kobus Botha met sy braaiagtergrond.

Sy raad aan toekomstige of aspirerende deelnemers is kort en kragtig.

“Mense kan jou nie voorberei nie. Dit is soos om ’n kind te hê; jy weet nie wat vir jou wag tot jy daar is nie.”

Dié kosreeks, wat in die Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 6 Februarie om 20:00 op kykNET.

You need to be Logged In to leave a comment.