Die familie van ’n man van Bonteheuwel is rasend van bekommernis nadat hy op 3 Augustus die huis verlaat het en nooit teruggekeer het nie.

Derek Hendry het soos die spreekwoordelike mis voor die son verdwyn nadat hy in Bonteheuwel-rylaan in ’n taxi geklim het en nooit weer gesien is nie.

Volgens sy dogter, Dominique Hendry, het haar pa, wat by sy suster, Michelle Basson, woon, vir niemand gesê waarheen hy op pad was nie. “Hy het ook nie ’n selfoon by hom gehad nie. Dit is baie ongewoon vir my pa om net op te staan en te verdwyn. Dit het nog nooit gebeur nie en dit is hoekom ons so verbaas is. Ons is siek van bekommernis en weet nie meer watter kant toe om te draai nie,” sê Dominique.

Sy sê daar is geen rede vir haar pa om uit eie keuse te verdwyn nie. “Hy was nie siek nie en het ook nie enige sielkundige probleme gehad nie. Hierdie hele ding is vir ons ontstellend en ons vrees die ergste,” sê sy.

Basson sê Derek se verdwyning veroorsaak verskriklike spanning. “My nek en rug pyn al van al die stres, maar ons kan nie ophou soek nie. Ons wil weet waar hy is en of hy oukei is,” sê Basson.

Volgens haar is Derek se gereelde uitstappie om Saterdae in Athlone op perde te gaan wed. “Ons was by die plek waarheen hy gewoonlik gaan, maar daar was geen teken van hom nie. Een van die meisies wat daar werk, het vermoed sy het hom weer daar gesien ná sy verdwyning, maar sy is ook nie heeltemal seker nie. Ons was by al sy vriende en kollegas, maar daar is geen spoor van Derek nie,” sê sy.

Met sy verdwyning het Derek ’n blou baadjie, ’n blou denimbroek en bruin skoene aangehad.

  • Indien jy hom gesien het of weet waar hy hom bevind, skakel 083 253 8614, 083 718 8851 of 081 723 3404 of die Bishop Lavis-polisie.

You need to be Logged In to leave a comment.