Daar is nog geen taal of tyding van ’n man van Bonteheuwel wat reeds op 3 Augustus verdwyn het nie. Derek Hendry het op dié betrokke dag glo in ’n taxi geklim en daarna soos ’n reuse-speld verdwyn. TygerBurger het op 14 Augustus (“Man van Bonteheuwel steeds vermis”) oor Hendry se verdwyning berig.

Sy dogter, Dominique Hendry, het toe gesê dat haar pa by sy suster, Michelle Basson, gewoon het nadat hy en haar ma geskei is. Hy is daardie oggend weg sonder ’n selfoon en sonder om iemand te vertel waarheen hy onderweg was. Dit was glo baie ongewoon van hom om net êrens heen te gaan sonder om vir iemand te sê.Dominique sê hulle het nog niks gehoor nie.

 “Ons het hom ongelukkig nog nie gevind nie en is rasend van bekommernis. As daar net iemand is wat iets weet en na vore kom, sal ons dit waardeer. Daar is nie eens een leidraad wat ons kan opvolg nie,” sê sy. Volgens haar is daar geen rede waarvan hulle bewus is dat haar pa sommer net sal opstaan en verdwyn nie.“Ons is regtig desperaat om hom te vind of te weet wat met hom gebeur het,” sê sy.

Die 53-jarige Hendry het ten tyde van sy verdwyning 72 kg geweeg, is 1,73 m lank en een van sy voortande is gebreek. Hy was geklee in ’n blou denimbroek, ’n blou baadjie en bruin skoene. Indien jy inligting het wat daartoe kan lei dat hy gevind word, stuur ’n wenk na die Pink Ladies-organisasie op WhatsApp by 072 214 7439. 

You need to be Logged In to leave a comment.