KAAPSTAD – Die verkragter en moordenaar van die 62-jarige vrou van ‘n verswakte man van die plaas Altydgedacht het eindelik Maandag – vyf jaar nadat sy wreed in haar huis verkrag en verwurg is – aan die pen gery.
Julian Engelbrecht (29) van die plaas Morgenster – slegs 400 meter van die moordtoneel – is in die Kaapse hooggeregshof drie keer lewenslange tronkstraf opgelê op die moord en verkragting van Kathleen du Plooy.
Haar lewelose liggaam is op 6 April 2020 in hul huis deur haar man, Esau, ontdek. Esau, wat nie kon loop nie nadat hy ‘n beroerte gehad het, is voltyds deur die oorledene versorg.
Sy het met haar gesig na onder gelê met haar pajamabroek tot op haar enkels afgetrek, het speursers. Dawid Fortuin van die Durbanville-speurdiens aan TygerBurger gesê.
Daar is in die nadoodse ondersoek bevind dat sy vaginaal en anaal verkrag en verwurg is.
Verskeie verdagtes is ondervra en vingerafdrukke en DNS is van die verdagtes bekom. Eers met die uitslae van DNS-toetse op semen in Junie 2021 is een van die verdagtes met die voorval verbind.
Engelbrecht is op 26 Julie 2020 in hegtenis geneem. Die saak is herhaaldelik in die hof uitgestel tot Engelbrecht op 19 Augustus vanjaar aangedui het dat hy ‘n pleitooreenkoms wil aangaan. Hy het op 20 Augustus skuld beken op al die aanklagte teen hom – twee aanklagte van verkragting en ‘n aanklag van moord, het Fortuin aan TygerBurger gesê.







