Toe Kruispad in verlede week se hewige stormweer oorstroom is en water by huise begin inloop het, is daar vinnig gespring om die watermassas te stuit.
Teen vroegoggend Woensdag het daar al amper 100 mm reën geval en was die een kant van die pad onder water en motoriste moes versigtig in die middel van die pad deurry.
“Daar het strome water in die pad afgeloop tot by die Shell- diensstasie en van daar af slote gemaak soos dit langs die grensmure van die huise afgeloop het,” sê André le Roux van die Brackenfell Belastingbetalersvereniging.
Riaan Tolken wat in die plaasgebied ’n entjie verder bly en ook in die belastingbetalersvereniging se komitee dien, het die nood gesien en blitsig op sy laaigraaf geklim om sandwalle duskant die pad te begin gooi.
“Ek het sommer van die grond-en-teerklip-mengsel wat langs die pad gelê het geskep en voor die mure gegooi om te verhoed dat die water verder by die huise inloop,” sê hy.
Tolken sê sowat sewe huise en ’n woonkompleks is geraak.
“Die probleem is dat die stormwatergat half toegebou is en die pyp ook heeltemal te klein is vir soveel water,” sê hy.
Volgens hom het die stormwaterinfrastruktuur nie tred gehou met die ontwikkeling in Protea Village nie.
“Die water loop af na die retensiedam naby Crammix waar dit begin oorloop het in Kruispad as waterbaan oor die pad en langs Shell af waar dit slote langs die mure gekerf het tot by die stormwatergat wat te klein is.
Volgens Tolken het die infrastruktuur nie ’n kans gestaan teen die 100 mm reën wat gemeet is nie.
Hy is oor die algemeen bekommerd oor die stormwaterstelsel in die gedeelte van Brackenfell wat volgens hom nie opgewasse is teen stedelike ontwikkeling nie.
“As ’n voorbeeld moes die stormwaterpyp van die begin af 1 m in deursnee gewees het. Dié pyp is egter net sowat 30 cm breed en nie naastenby groot genoeg om so baie water te dreineer nie,” sê hy.


