’n Man van Brackenfell kan deur die Stad Kaapstad aanspreeklik gehou word vir kostes om ’n lamppaal en ander padteken wat hy omgery het, te vervang.
Die 33-jarige man, wie se besonderhede aan die Brackenfell-polisie bekend is, het glo Donderdagaand (15 Desember) om 19:00 ’n lamppaal voor Brackenstraat 73 met sy voetuig getref en omgery.
Volgens ’n inwoner wat glo die insident aanskou het, het die bestuurder van die voertuig nie stilgehou nie en 50m verder ook die voetoorgangteken omgery.
“Die lamppaal is saamgesleep vir sowat 80 meter, waar dit in die pad agtergebly het,” sê die inwoner.
’n Nommerplaat en kentekens van ’n Toyota-voertuig is op die toneel gekry.
Volgens kapt. Erica Crous van die Brackenfell-polisie is ’n botsingsverslag geopen en word dit tans ondersoek.
Intussen het wykraadslid Marian Nieuwoudt gesê dat die Stad, ingevolge sy beleid, die kostes van die infrastruktuur van die bestuurder kan terugeis.
“Die Stad spandeer honderde duisende rand jaarliks om lamppale en padtekens te vervang wat deur dronk en nalatige bestuurders verwoes word. Opsigself gaan dit baie kos om die paal en padteken te vervang, maar die grootste koste lê daarin om die ondergrondse kabels te vervang ná so ’n ongeluk,” sê sy.