’n Inwoner van ’n informele nedersetting naby die Goodwood-gevangenis is dood ná hy glo deur drie gewapende mans gejaag en doodgesteek is.
Die man, net bekend as Sotho, se lyk is Donderdagoggend deur ’n verbyganger tussen bosse langs die pad – wat na die gevangenis lei – gekry.
Met TygerBurger se besoek aan die toneel kon die polisie nog nie veel sê nie, maar die lyk sowel as die hok waarin die oorledene gewoon het, was met geel polisielint afgesper.
Sotho se laaste oomblikke kan uit vertellings deur inwoners afgelei word.
Volgens Marlo Jantjies, wat so entjie van Sotho af woon, het hy en sy broer in die vroeë oggendure wakker geword toe die honde begin blaf het.
“Ons kon ’n man hoor skree, maar ’n kort ruk daarna was dit weer stil,” sê Jantjies.
Die man wat in die hok langs Sotho woon, Chris Evertson, sê Sotho was vir twee dae nie daar nie.
“Dit is nou so meer as ’n jaar wat ek hier woon en ons het goeie vriende geraak. Elke oggend het ons mekaar gegroet, maar ek het hom nie gisteraand (Woensdag, die aand van sy dood) gesien nie,” sê Chris.
Inwoners blyk bang te wees om te veel te sê, maar daar word gefluister dat drie mans met messe Sotho gejaag het. Dit blyk of hy op sy sokkies weggehardloop het, aangesien sy skoene nog by sy hok was.
’n Glas wat uit ’n plastiekhouer gemaak is, dui ook volgens inwoners daarop dat daar moontlik ’n gedrinkery was voor Sotho om die lewe gebring is.
Daar is glo ook bloed in sy woonplek gevind, wat vermoedelik daarop kan dui dat ’n struweling daar ontstaan het.
Die man wat op die lyk tussen die bosse afgekom het, sê hy was onderweg om vullis te gaan weggooi toe hy dit sien. “Ek het dadelik ’n verbygaande tronkbewaarder gestop en hy het die polisie in kennis gestel,” sê die man, wat uit vrees nie sy naam genoem wil hê nie.
Kapt. Wayne Theunis, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek tans die voorval.
“Ons wil ’n beroep doen op enigiemand wat weet wat gebeur het, om na vore te kom en die polisie in die ondersoek te help,” sê Theunis.
Man naby tronk vermoor
‘n Inwoner van ‘n informele nedersetting naby die Goodwood-gevangenis is dood na hy glo deur drie gewapende mans gejaag en doodgesteek is.
Share this post:
Share this post:
Related Articles
Leave a comment
You need to be Logged In to leave a comment.