Nooddienste is verlede week na ’n besigheidsperseel by die Jan Burger-sportterrein in De Grendelweg in Parow-Noord ontbied nadat ’n volwasse man blykbaar van ’n dak af geval en ernstig beseer is.
Die private sekerheidsmaatskappy District Watch het die voorval op sy sosialemedia-blad bekend gemaak nadat hy, sowel as die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste, wetstoepassing en paramedici na die toneel ontbied is.
“Die pasiënt is ondersoek en weens die aard van sy beserings per helikopter na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad vervoer,” lui die inskrywing. Die man is in die trauma-eenheid opgeneem.
Die voorval het op Maandag 30 Oktober omstreeks 16:00 plaasgevind.
Megan Davids, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid se EMS-ambulansdiens, sê hulle is ook na die toneel ontbied en het bevestig dat die man nie gereageer het nie, en deur ’n private ambulansdiens na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Ineke van Huyssteen, woordvoerder van die ER24 privaat-ambulansdiens, het bevestig dat ’n persoon kritieke beserings opgedoen het nadat hy verlede Maandag by die sportkompleks van ’n hoogte af geval het.
Daar word vermoed dat die pasiënt 24 jaar oud is.
“Met ER24-paramedici se aankoms net so voor 15:30 was die EMS-diens en brandweerdiens reeds op die toneel besig om die pasiënt te behandel. By verdere ondersoek is daar gevind dat die persoon veelvuldige beserings opgedoen het en dat hy in ’n kritieke toestand was.
“Gevorderde lewensondersteuning-ingryping is dadelik toegepas voordat die pasiënt per noodhelikopter na ’n hospitaal vervoer is,” sê sy.
Van Huyssteen sê die presiese omstandighede rondom die voorval is nog onbekend.


