Man helder oordag in straat in Parow geskiet

Die Parow-polisie ondersoek die moord van ’n man verlede week in Joubertstraat, Parow-Vallei. Die voorval het op Maandag 11 Desember gebeur.

Die polisie-voertuie in Joubertstraat, Parow-Vallei, waar die lyk van die vermoorde man nog in die middel van die pad lê.

Credit: SYSTEM

Die Parow-polisie ondersoek die moord van ’n man verlede week in Joubertstraat, Parow-Vallei. Die voorval het op Maandag 11 Desember gebeur.

Luidens mediaberigte is die slagoffer bekend as Elton Ely, glo ’n leier van die 28’s-bende.

Die polisie-voertuie in Joubertstraat, Parow-Vallei, waar die lyk van die vermoorde man nog in die middel van die pad lê.

AO Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval, wat in ’n besige straat en naby ’n supermark gebeur het, bevestig.

Volgens hom het lede van die polisie omstreeks 15:50 by die toneel op die lyk van ’n man in die middel van die pad afgekom. Die slagoffer het veelvoudige skietwonde opgedoen, sê Swartbooi.

“Die slagoffer is op die toneel deur die mediese personeel dood verklaar. Die verdagtes is onbekend en het van die toneel af gevlug. Hulle is nog op vrye voet.

“Die voorlopige inligting dui daarop dat drie onbekende mans die slagoffer genader het terwyl hy van sy motor af weggestap het, waarna op hom geskiet en hy noodlottig gewond is,” sê Swartbooi.

Die motief vir die aanval vorm deel van hul ondersoek. Die polisie ondersoek ’n saak van moord.

Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaad-nommer te skakel by 08600 10111. Inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.