Die krag van sosiale- en tradisionele media het verlede week veroorsaak dat ’n man wat ’n hond langs die pad weggesmyt het, se turf lelik sit.

’n Ooggetuie het gesien hoe die man die hond agter die Blue Downs-hof aflaai en het hom gekonfronteer en ’n foto geneem. Hierdie foto is aan die Kaap de Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) gestuur en met bykomende inligting op sosiale media versprei.

Kommentators onder die plasing was woedend en het die verdagte liederlik uitgeskel. “Plaas hom in die tronk,” het Johan Luus gesê. Ander het gedreig om hom te lyf te gaan.

’n Joernalis, op soek na sy weeklikse nuuskwota, het die plasing gesien en deur die opmerkings onder die plasing gegaan. Daar het hy gesien dat een van die kommentators sê hulle vermoed die man bly in Blackheath.

Ná ’n kort speurtog is die verdagte in Blackheath opgespoor en nou sal die gereg sy gang gaan. “Ons het hom gekry!” het Belinda Abrahams, woordvoerder van die DBV, gesê.

In nog ’n skokkende voorval het inspekteurs van die DBV drie volwasse honde en vier kleintjies van ’n eiendom in Goodwood gered.

’n Video wat aanlyn gesirkuleer is, het gewys hoe word die honde mishandel.

You need to be Logged In to leave a comment.