Bronwyn Olifant, ambulansbestuurder van D.A.D. met een van haar kliënte.


As jy ’n siek dier het en nie weet wat om daarmee te doen nie, moet nie meer vrees nie, want daar is hulp.

Al wat jy moet doen is om Danfred Ambulansdienste, oftewel D.A.D. te bel.

Danfred en Bronwyn Olifant het met die idee vorendag gekom nadat hulle besef het mense wat in minderbevoorregte gebiede woon het nie altyd die vermoë om siek diere na ’n dierekliniek te neem nie. “Ek het jare lank vir ’n dierewelsyn-organisasie as inspekteur gewerk en daar het ek die behoefte aan so ’n diens besef. Arm mense is ook lief vir hul diere, maar is gekniehalter wanneer daardie diere siek of beseer is. Twee jaar gelede is die saadjie vir die idee in my kop geplaas en vroeër vanjaar het dit ’n werklikheid geword,” sê Olifant.

“Of jy nou in ’n plakkerskamp of ’n paleis woon, as daar ’n siek dier is, sal ons jou help.”

Olifant maak ’n punt daarvan om te verduidelik dat D.A.D. nie ’n geldmaak-skema is nie. “Of jy nou in ’n plakkerskamp of ’n paleis woon, as daar ’n siek dier is, sal ons jou help. Uiteraard gee ons voorkeur aan die mees minderbevoorregtes en bejaardes, maar almal is welkom om by ons om hulp aan te klop,” sê Olifant.

Wanneer D.A.D. ’n dier oplaai neem hulle dit na die naaste dierewelsynorganisasie vir behandeling. “Vir nou werk ons meestal net met honde en katte, maar ons sal dalk in die toekoms verder uitbrei. Ons werk ook nou saam met ander organisasies soos Help-a-Paw, ’n organisasie wat diere met kos help en na hul gesondheid omsien. Ons leuse is Animal Lives Matter, so ons sal met enigiemand saamwerk wat die belange van diere op die hart dra,” sê hy.

Hulle werk tans net in Mitchells Plain, Firgrove, Blue Downs, Kuilsrivier, Macassar, Kraaifontein en Brackenfell, sowel as die omliggende plekke daar naby.

  • Vir meer inligting oor hoe om by D.A.D. betrokke te raak, of om hulp aan te klop, stuur e-pos na info@diereambulansdienste.com of skakel 081 731 6596 of 076 887 6561.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article