Die Kleinvlei-polisie het bevestig dat een man dood en ń ander gewond is in ń skietery vroeër vandag in Kleinvlei.

Wat die skietery op die hoek van Keerom-en Protea-straat interessant maak, is dat daar kort daarna ‘n boodskap op Facebook verskyn het waar iemand anoniem skryf: ” Ougat en Duimpie, daai is ‘n warning-skoot, jy het ons broer Bobby G amper vrek gesteek omdat jy vir Allie wil vrek maak oor Wendy se goed. Horribles maak Horribles vrek nou.”

Die stasiebevelvoerder van die Kleinvlei-polisie, kol. Dirk Rademan, het die skietery bevestig, maar het nie verder uitgebrei of dit bendeverwant is of nie. Hy was wel bereid om te sê niemand is nog in verband met die skietery in hegtenis geneem nie.

Die Kaapse Skiereiland word die afgelope paar weke deur bendegeweld geteister en tientalle is reeds sedert die begin van Julie doodgeskiet. Verlede week is ń matrikulant aan die Hoërskool Kleinvlei, Chad-Lee Polman, tien treë van sy ouerhuis doodgeskiet.

Hierdie is ń ontwikkelende storie. Hou TygerBurger dop vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article