Die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat ‘n 72-jarige man vroeër die week by sy huis in Panorama tydens ‘n huisroof dood is.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê volgens ‘n verslag was die inwoners van die huis aan die slaap toe onbekende verdagtes hul woning betree en hulle vasgebind het.
“Die slagoffers is deur ‘n familielid gevind en bevry,” sê Twigg.
Twigg sê egter dat een van die slagoffers, ‘n bejaarde man, op die toneel deur mediese personeel dood verklaar is.
“Die oorsaak van sy dood vorm deel van die polisie se ondersoek.”
Volgens Twigg het die verdagtes gevlug. ‘n Televisiestel is tydens die aanval gebuit.
‘n Saak van moord en huisroof word deur die Parow-polisie ondersoek ná die voorval in President Brand-singel, Panorama, op Dinsdag 3 September.
Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel.


