Willem Botes van Parow met sy gasbottel wat gesteel, maar teruggevind is.

‘n Voormalige lid van die polisie en lid van Community in Blue, ‘n inisiatief deur die Suid-Afrikaanse polisiediens, kon onlangs daarin slaag om ‘n vermeende bedrieër te help vastrek en sodoende sy gesteelde gasbottel terug te vind nadat dit glo deur die verdagte gesteel is.

Willem Botes, ‘n inwoner van Parow, het verlede week vertel hoe die verdagte tot 12 gasbottels by ‘n plaaslike nie-regeringsorganisasie gesteel het. Soortgelyke voorvalle is glo in Stellenberg en Brackenfell ook aangemeld, meen hy.

Die persoon doen homself glo voor en sê hy werk vir ‘n kerk-organisasie. Hy neem dan die gasbottels en sê hy sal dit volmaak en dat hy dit maandeliks sal doen. Hy gaan haal die gasbottels, belowe om dit te vul en terug te bring, maar dit gebeur nie, verduidelik Botes.

Twee nie-regeringsorganisasies in Parow is glo deur die man op hierdie wyse bedrieg.

Danksy sy ondersoekwerk kon hy daarin slaag om die 52-jarige persoon op Woensdag 9 Julie aan te keer. Botes sê dit kom nadat een van sy gasbottels ook gesteel is.

Botes en ‘n plaaslike speurder het glo ook ‘n spaza-winkel in Parow besoek waar al die gasbottels ontdek is. “Daar was meer gasbottels as enigiets. Ek skat so tussen 200 tot 300 gasbottels,” sê hy.

Die verdagte het glo ‘n bakkie gehuur om die gasbottels op- en af te laai.

Volgens Botes kos dit sowat R300 om ‘n 9kg gasbottel te vul; R600 vir ‘n 19kg gasbottel en R800 vir ‘n splinternuwe gasbottel en om dit te vul.

Lt.kol. Leon Marx, hoof van die speurtak by die Parow-polisiekantoor, sê die ondersoekbeampte in die saak is tans met verlof. Hy sê die saak was op Maandag 14 Julie op die Bellville-landdroshof se hofrol. Hy sê ‘n diefstal-saak word ondersoek.

LEES OOK: SAPD ondersoek dood van 85-jarige by tehuis in Parow

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article