Magiese tuinreis ontvou by Hazendal

Die internasionaal bekroonde botanis Leon Kluge se Between two Worlds is meer as net `n tuinontwerp. Dis `n multi-sensoriese verbeeldingsreis amper magies van aard – `n tentoonstelling van die tropiese […]


Die internasionaal bekroonde botanis Leon Kluge se Between two Worlds is meer as net `n tuinontwerp. Dis `n multi-sensoriese verbeeldingsreis amper magies van aard – `n tentoonstelling van die tropiese planteryk in al sy skoonheid.

Met beligting, klank en selfs reuk voer die uitstalling jou mee na `n wortelboomwoud (mangrove) wat wakker word en weer gaan slaap. Van `n mistige oggend met waterstrome en sonsopkoms met vrolike voëlgesang tot `n helder maanlignag waar krieke musiek maak.

Besoekers van oor die stad heen het die afgelope naweek na Hazendal-wynlangoed gestroom om dié buitengewone tentoonstelling te kom ervaar – `n eerste in Suid-Afrika.

Dié tuin was verlede jaar Suid-Afrika se inskrywing by die wêreld se grootste tropiese blommeskou in Singapoer waar dit `n goue medalje en twee toekennings – Beste op Skou, en Beste Beligting – ingeryg het.

Kluge, `n landskapkunstenaar wat bekend is vir gewaagde skeppings wat die grense van tuinontwerp verskuif, het ook verlede jaar twee toekennings by die Chelsea-blommeskou in Londen verwerf.

Treffer in Singapoer

Met 4 500 plante van 200 soorte is deurdagte vakmanskap aan die dag gelê met Between two Worlds.

“In Singapoer het dit ons drie weke geneem om op te rig,” sê hy.

“Vir die fokusstuk het ons bloekomboomtakke gebruik om die mangrove-wortels wat in die water in groei uit te beeld, omring met inheemse plantsoorte. Die agtergrondklanke van voël- en dierelewe is in Skukuza in die Kruger-wildtuin opgeneem en die groot bloekomboomtakke van `n boom wat by Hazendal omgeval het, is gebruik.

“Daar is varings, orgideë, vyebome, en `n inheemse mangoboom. Die idee met die tema was om `n fantasiewêreld te skep met die speling van kleur en klank. Om die tydstip tussen twee wêrelde vas te vang, net voor jy aan die slaap raak en wanneer jy begin droom, daai oomblik wanneer realiteit en fantasie saamsmelt,” vertel hy aan TygerBurger.

“Aspekte soos die vuurvliegies gee dan ook die gevoel van `n feëland, `n woud wat slaap en wakker word om te herinner aan `n tyd waarin ons in harmonie met die natuur saamgelewe het.”

Alhoewel Kluge al agt soortgelyke ontwerpe in galerye oor die wêreld heen uitgestal het, was dit `n eerste vir Suid-Afrika.

“In Singapoer het een miljoen mense oor 10 dae verby die tuin gestap. Hoekom dit nie terugbring Suid-Afrika toe nie waar dié soort plantkuns met spesiale effekte nog nie gesien is nie?” sê hy.

Die landgoed werk ook saam met Kluge om die tuine reg oor die historiese eiendom te herontwerp en `n nuwe botaniese tuin in die plaas se wingerde te skep wat toegewy is aan die renosterveldgemeenskap van die Kaapse Floristiese Streek, ‘n Unesco-wêrelderfenisgebied.

Die skouspel sal nog tot 2 Mei oop wees op Hazendal-wynlandgoed voor Kluge se vertrek na die Chelsea-blommeskou in Mei.

Kaartjies is beskikbaar op Quicket.

You need to be Logged In to leave a comment.