AO Louise Strydom bemoedig bejaardes by die Kraaifonten-tehuis.FOTO’S: Desirée Rorke


Die Madiba-gees van medemenslikheid, of Ubuntu, is losgelaat by die Kraaifontein-tehuis vir seniors in Scottsville op Mandeladag, waar lede van die Kraaifontein-polisie en plaaslike kerke groot vreugde gebring het aan die 140 inwoners.

“Ons het besluit om ons 67 minute by die seniors te spandeer om die boodskap tuis te bring dat ons as polisie en gemeenskap omgee,” sê AO Louise Strydom.

Volgens Strydom ontvang baie van die inwoners by die tehuis min of geen besoeke nie. “Baie van die seniors voel afgeskeep en asof hul families hulle weggegooi het. Hulle is afgesonder en baie alleen.”

Volgens Strydom ontvang die ouetehuis ’n baie klein subsidie van die provinsiale regering en moet die ouetehuis regkom met baie min.

“Hier is nie baie geriewe vir die inwoners nie en die tehuis benodig gereeld basiese goed soos koffie, suiker en selfs toiletpapier. Maar die inwoners is baie kreatief en het naaldwerk- en breigroepies gestig om besig te bly,” sê sy.

Die seniors is vermaak met sang en dans van die AGS kerk Kraaifontein, die Youth Power Group en die Youth Clouds of Heaven-dansgroep, asook met middagete bederf.

Sithembele Sitemela, ’n jeugleier, het hulde gebring aan Nelson Mandela en die seniors bemoedig om soos Mandela hul daaglikse uitdagings met moed aan te durf.

“Nelson Mandela het die moed en veerkragtigheid gehad waarsonder hy nie sou kon doen wat hy gedoen het nie. Dit is wat ons as gemeenskappe op alle vlakke van die samelewing moet aanspoor. Julle moet moed skep en weet julle is baie belangrik is vir ons,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article