Vier oesjare; gehoute én ongehoute wyne; drie wyke en ses distrikte uit drie streke … dit is die besondere verhaal van die 2025-FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10.
Onder die wenners wat verlede Woensdag (15 Oktober) by die Vergelegen-wynlandgoed deur Sauvignon Blanc Suid-Afrika aangekondig is, is Durbanville se eie Maastricht Sauvignon Blanc 2025.
Onder die wenwyne was vier uit die kusstreek, drie uit die Kaapse suidkus, twee uit die Breederiviervallei en een uit die Wes-Kaap.
Die beoordelaarspaneel van die 19de jaarlikse FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10-kompetisie het die beste wyne van Suid-Afrika se veelsydigste kultivar in strawwe mededinging uit 167 inskrywings van 98 produsente bekroon.
Die seremoniemeesters Ryan O’Connor en Success Lekabe het gaste op ’n FNB-Top-10-“Mystery Road Trip” geneem om die topwyne uit 20 finaliste te onthul. Gaste moes met die hulp van ’n geïllustreerde kaart en ’n gemengde speellys – met kunstenaars soos Adele, Bon Jovi en David Kramer – hul pad in ’n viering van streekdiversiteit vind.
Beoordelaarspaneel
Vanjaar het die eerste optrede van dr. Carien Coetzee as voorsitter van die beoordelaarspaneel ingelui, sowel as gebruik van die Franse maatskappy Winespace se baanbreker Tastee-beoordelingsplatform. Saam met Coetzee op die paneel was dr. Winifred Bowman, ‘n Kaapse wynmeester en internasionale beoordelaar; Praisy Dlamini, wynmaker en uitvoerende hoof van Adama Wines en HER Wine Collection; die wynmakers Morgan Steyn van De Grendel-wynlandgoed en Juandré Bruwer van Diemersdal-wynlandgoed; asook die gasbeoordelaars Liezl Richards, ‘n Kaapse wynmeester en nasionale verkoops- en uitvoerbestuurder van Gabriëlskloof; en Lauren Segers-Jewell van Wine Cellar.
Vanjaar se Top-10 (in alfabetiese volgorde):
. Ataraxia Sauvignon Blanc 2025
. Cederberg Wines Ghost Corner Wild Ferment Sauvignon Blanc 2024 (gehout)
. Delaire Graff Coastal Cuvée Sauvignon Blanc 2025
. Groote Post Sauvignon Blanc 2025
. Kleine Zalze Family Reserve Sauvignon Blanc 2023 (gehout)
. Maastricht Sauvignon Blanc 2025
. Merwida Sauvignon Blanc 2025
. Rietvallei John B Sauvignon Blanc 2025
. Steenberg Barrel Fermented Sauvignon Blanc 2023 (gehout)
. Vrede en Lust Artisan Range Blanc Fumé 2021 (gehout)
Hoogtepunte
“Ons het vanjaar groot mylpale bereik om ons boodskap oor die premiumgehalte en veelsydigheid van Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc wêreldwyd te versterk,” sê Elunda Basson, voorsitter van Sauvignon Blanc SA.
“Hoogtepunte sluit in ons deelname aan CapeWine, die bekendstelling van die eerste gesaghebbende boek oor Suid-Afrikaanse Sauvignon Blanc – The Story of South African Sauvignon Blanc – sowel as die bekendstelling van die eerste aromawiel vir die kultivar, in samewerking met die Universiteit Stellenbosch, South Africa Wine en ander plaaslike en internasionale vennote.
“Vanjaar se FNB-Top-10 weerspieël die uitnemendheid wat dié kultivar definieer. Die wenwyne is ’n bewys van ons wynmakers se vernuf om tekstuur, kompleksiteit en verouderingspotensiaal uit hierdie edeldruif te ontgin. Ons is trots om jonger én ouer oesjare, sowel as ’n indrukwekkende verskeidenheid style uit koel en warmer streke te vertoon,” sê sy.
Proe
Laai die Top-10-boekie met proenotas en die Sauvignon Blanc-aromawiel gratis af by https://sauvignonblanc.com/.
Koop die 2025-FNB- Sauvignon Blanc- SA Top-10-versameling aanlyn via https://www.wineofthemonth.co.za/ of by Wine Stellenbosch TOPS.
Die koffietafelboek The Story of South African Sauvignon Blanc kos R495 (plus koerierkoste). Bestel by https://sauvignonblanc.com/ of kontak info@sauvignonblanc.com of 082 808 1114.
Die jaarlikse Sauvignon Blanc SA seminaar en algemene jaarvergadering vind op Woensdag 12 November op die Hazendal-landgoed plaas.
Neem deel aan die gesprek met #FNBTop10 #SauvignonBlancSA en volg Sauvignon Blanc SA op Facebook, Instagram en LinkedIn (@sauvignonblancsa) en op X (@SauvignonSA).





You must be logged in to post a comment.