Maak vrede met die bou van nuwe skole

Ek is nou net mooi moeg van mense se gesanik oor paaie en skole.


Ek is nou net mooi moeg van mense se gesanik oor paaie en skole.

’n Nuwe skool word beplan en eerste ding wat ons doen, is kla oor die verkeer.

Nie eens ’n maand gelede nie was die tekort aan skole ’n kokende onderwerp. Het ons so gou vergeet van die ongeveer 1 500 Wes-Kaapse kinders wat teen middel Februarie steeds gewag het om iewers in ’n skool geplaas te word?

Die realiteit is, in die noordelike voorstede – veral in Bellville, Brackenfell en Durbanville, is skole tans broodnodig.

Ek praat hier as ’n ma wat vyf jaar gelede met my hande in my hare gesit het. Al vier hoërskole waar ons aansoek gedoen het, waarvan drie binne ’n 6 km radius is van waar ons woon, het ons aansoeke afgekeur.

“Mevrou, ons is oorvol … Mevrou, julle is nommer 105 op die waglys … nommer 95 op die waglys … ”

Die WKOD se besluit om nog ’n hoërskool in Brackenfell te bou, is puik. Dit sal definitief baie druk van die skole in die omliggende voorstede afneem en meer ouers sal gerus kan gaan slaap wanneer hul kind iewers aanvaar word.

Nou wat dan van die verkeer?

Ons sit al jare in verkeer sonder hierdie nuwe skool. Hoe vinniger die Kaap groei, hoe erger gaan dit word – of daar nou ’n nuwe skool gebou gaan word of nie. Maak vrede daarmee en vat die wen.


EstherDurbanville

You need to be Logged In to leave a comment.