’n Motorongeluk in Durbanville het gister (30 Junie) die lewens van ’n ma en haar 17-jarige seun van Kraaifontein geëis. Die tragiese ongeluk kom net ’n paar jaar nadat die Myburghs se dogter oorlede is.
Juan Myburg, ’n gr.11-leerder by die Hoërskool Brackenfell, en sy ma Jennifer (52), was oppad Durbanville toe op Langebergweg toe die ongeluk omstreeks 12:35 plaasgevind het.
Volgens kapt. Marchell Roode, woordvoerder by die Durbanville-polisie, het die Myburgs se Renault Scenic van voor in ’n 45-ton vragmotor vasgery.
“Die trok wat sement vervoer het, het in die rigting van Kraaifontein gery. ’n Ooggetuie het aan polisie gesê dat die bestuurder van die Renault, die vrou, in die trok vasgery het. Die trok was in sy eie baan en daar was geen ander voertuie wat verbygesteek is nie,” sê hy.
Rhode sê niemand kan werklik spekuleer oor wat gebeur het nie, behalwe dat die bestuurder dalk haar oë vir ’n oomblik van die pad afgehaal het.
“Ondersoekbeamptes het aartappelskyfies en hoender in die voertuig gevind,” sê Rhode.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici en metro-polisie om 13:09 op die toneel opgedaag.
“Die trok en die motor het in die middel van die pad gestaan. Noodwerkers het die lewelose liggaam van die vrou tussen die bestuurder- en passasierssitplek gevind. Sy was reeds dood en niks meer kon vir haar gedoen word nie,” sê hy.
“Die seun het op die sypaadjie ’n paar meter van die voertuig gelê. Ons glo dat lede van die publiek hom uit die voertuig gehaal het,” sê Meiring.
“Hy het verskeie beserings opgedoen en geen tekens van lewe getoon nie.”
Tydens ’n operasie van 40 minute het paramedici vergeefs probeer om die seun by te bring.
“Met die eerste tekens van lewe, is hy inderhaas per ambulans na die Mediclinic Durbanville vervoer vir verdere behandeling,” sê Russel.
By die hospitaal het die seun se toestand weer vererger en hy is na 20 minute in die hospitaal se ongevalle-eenheid dood verklaar.
Volgens Rhode het ’n derde insittende, ’n meisie in haar tienerjare die ongeluk oorleef. Sy is na die Mediclinic Durbanville vervoer vir behandeling, waar sy in ’n bestendige toestand is.
Die bestuurder van die trok is nie beseer nie.
“Dis nie duidelik of die insittendes hul sitplekgordels vasgemaak het nie, maar albei voorste lugsakke het met die harde impak ontplooi.”
Die Durbanville-polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.
Die bestuur van die Hoërskool Brackenfell het vanoggend (1 Julie) ’n boodskap van medelye op die skool se Facebook-blad geskryf.
“Dit is met groot hartseer (dat ons van die ongeluk verneem). Ons harte gaan uit na sy pa en die res van die familie wat in ons gebede is,” lees die inskrywing.