Die lyk van ´n onbekende persoon is Woensdag (5 Maart) langs ´n pad in Welgelegen gekry. Die identiteit en geslag van die persoon is nog onbekend.
Sekerheidsbeamptes van District Watch is die betrokke dag om 12:18 van die persoon op die hoeke van Rothschild-boulevard en Giel Basson-rylaan in kennis gestel waar die individu langs die pad op die gras gelê het. Die persoon het in daardie stadium geen tekens van lewe getoon nie.
Die beamptes het met hul aankoms by die toneel bevind dat die persoon geen sigbare beserings gehad nie.
“Hulle het die persoon met ´n kombers bedek en op die toneel gebly totdat die polisie en paramedici opgedaag het. Lede van die PWP-buurtwag en ander plaaslike rolspelers in die sekerheidsbedryf het ook ondersteuning gebied,” lui ´n inskrywing op hul sosiale media-blad.
Die persoon is dood verklaar nadat die paramedici en die polisie opgedaag het. ´n Lykswa is ook ontbied.
“Ons innige meegevoel gaan uit aan die familie en geliefdes van die persoon in hierdie moeilike tyd,” lui die inskrywing.