Die lyk van ’n hawelose man is verlede week by ’n openbare park in Monte Vista ontdek.
Die lyk is by Diaz Park gekry, waar tans opknappingswerk aan die gang is.
Kelvin Irvine, spanleier vir parke by die Monte Vista en Plattekloof Glen-belastingbetalersvereniging, het bevestig dit is ’n hawelose, maar kon nie veel verder uitbrei nie. Hy het verdere navrae na die private sekerheidsmaatskappy District Watch verwys.
Voglens dié maatskappy het hulle verlede Dinsdag (9 Julie) om 14:09 ’n noodoproep ontvang. Daarvolgens is aangemeld dat dit wil voorkom asof iemand wat nie reageer nie, in die park lê. Van hul beamptes is uit na die toneel. Hul ambulansdiens is ook ontbied, maar het bevestig dat die persoon reeds oorlede is. Die Goodwood-polisie is ook uit na die toneel.
Identifiseer
Deon Oosthuizen, adjunkvoorsitter van die Monte Vista en Plattekloof Glen-buurtwag, het op pad huis toe ná werk self by die toneel stilgehou. Die polisie en hul forensiese spanne was nog besig.
“Ek het gaan kyk of ek die persoon herken en dit was wel iemand met wie ek gereeld gesels het,” sê hy.
Oosthuizen sê die oorledene is Victor Mantlana (59). “Dit was die naam en die geboortedatum wat hy met my gedeel het, maar ek het by ander haweloses gehoor dat hulle na hom as Maria of Oupa verwys.”
Volgens Oosthuizen was Mantlana van die Oos-Kaap.
“Ek het maatskaplike dienste verskeie kere in die verlede versoek om hom te help, maar Victor het hulp geweier. Hy het gesê hy werk in die gebied, en kan daarom nie na ’n skuiling gaan nie. Ek het vir hom gesê dis gevaarlik op straat. Dit is regtig hartseer,” sê Oosthuizen.
Hy sê hy het ook probeer vasstel waar die oorledene werk, maar kon tot dusver nog nie daarin slaag nie. “Ek hoop hulle kry al sy besonderhede sodat indien hy enige familie het, hulle hom ter ruste kan lê.”
Ondersoek
AO Joseph Swartbooi, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat die omstandighede rondom die voorval nog ondersoek word.
Hy sê die Goodwood-polisie het ’n klagte op Dinsdag 9 Julie bygewoon. “Met hul aankoms by die openbare park naby die hoek van Diaz-rylaan en Cloetestraat, Monte Vista, om 14:40 het hulle op die lyk van ’n onbekende man afgekom. Die slagoffer is op die toneel deur mediese personeel dood verklaar,” sê Swartbooi.
Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Ondersoek sal ook ingestel word om die oorsaak van sy dood te bepaal.
Enigiemand met inligting word versoek om die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te skakel.


