Lyk in vlak graf gevind

Die Brackenfell- polisie ondersoek die moord op ’n 33-jarige man van Scottsdene in Kraaifontein.


Die Brackenfell-polisie ondersoek die moord op ’n 33-jarige man van Scottsdene in Kraaifontein.

Die man wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, se liggaam is gisteroggend (Dinsdag 31 Mei), in ’n vlak graf op die ou Everite-stofpad, langs die Brackenfell-natuurtuin gevind.
’n Inwoner van die Everite-hostelle wat Kruispad toe gestap het, het die oorledene se liggaam om 10:21 gevind.

Sy het eers ’n groot bloedkol op die pad gesien waarna haar oog op die hoop sand ’n meter van die pad geval het.
Net ’n gedeelte van die slagoffer se kop en sy linkervoet het by die graf uitgesteek. Bloed was glo nog sigbaar aan sy kop.

Ondersoekbeamptes by die misdaadtoneel het bloedspatsels in die veld aan die anderkant van die pad gevind, sowel as ’n stuk pyp wat langs die oorledene gelê het.
Dit blyk ook asof die slagoffer sonder klere vermoor is. Dié se klere het in ’n hopie langs die pad gelê. Familielede wat later op die toneel opgedaag het, het hom aan sy klere uitgeken.
Volgens hulle was hy al sedert Sondag vermis.

Die Brackenfell-polisie kon nog nie ’n oorsaak van dood of ’n motief vir die misdaad bevestig nie.
Die ondersoek duur voort.

You need to be Logged In to leave a comment.