“Ons is hartseer oor haar heengaan, maar het nou vrede, want ons weet nou waar sy is.”
Dít is wat Miriam Samuels, ouma van die 25-jarige vrou wie se lyk op Dinsdag 4 Oktober uit die dam naby Joostenbergvlakte getrek is, aan TygerBurger gesê het.
Die familie is van Kraaifontein.
Die lyk van haar kleinkind Anoeshka, alombekend as Nushka, is deur polisieduikers uit die Clear-landgoeddam gehaal nadat werkers die drywende lyk gesien en dit by sekerheidspersoneel aangemeld het.
“Sy is nou op ’n beter plek,” sê Samuels.
“Wanneer sy so vir rukke van die huis verdwyn het, het ek nooit geslaap nie en altyd by die venster uitgeleun om te kyk wanneer sy kom, of uit watter rigting.
“Ek sal haar altyd onthou as my kleinkind wat die huis skoongemaak het op maat van musiek. Sy was altyd vriendelik met almal en het ’n lieflike geaardheid gehad.
“Sy het niemand seergemaak nie en was almal se vriendin, selfs toe sy vasgevang was in die tik- en mandrax-verslawing. As sy ons goed gesteel het om dwelms te gaan verkoop, het sy altyd met ’n skaam gesig vir my en haar ma, Colette, om verskoning gevra en gesê ‘ek is lief vir julle’,” vertel Miriam.
“Sy was al drie weke lank vermis en ek en haar pa, David Damons, en Solly Claasen, ’n familievriend, het haar op Woensdag 5 Oktober by die Kraaifontein-polisiekantoor as vermis gaan aanmeld. Die polisiebeampte aan diens het my na die speurafdeling verwys en daar het speurder Sydney van Heerden ons gevra of sy enige geboortemerke of iets het waaraan sy uitgeken kon word. Ek het toe gesê dat sy dreadlocks het en dat sy ’n tatoeërmerk ‘Mum‘ en ‘Dad’ aan een kant van elke been het.”
Van Heerden het toe gesê dat hulle Dinsdag iemand met sulke tatoeërmerke gevind het, en dat ons die lykshuis by Tygerberg-hospitaal moes besoek.
“Op pad het ek vir David en oom Solly gesê dat hulle na die lyk moet gaan kyk, terwyl ek by ontvangs wag. Ek het nog vir myself gesê dat dit moontlik nie sy is nie, maar dat ek sal wag tot hulle klaar die uitkenning gedoen het, om finaal te aanvaar dat dit my kind is,” het Colette gesê.
David en Solly het haar net aan haar dreadlocks herken, want haar gesig was erg vermink.
“Die doodsondersoek was nog aan die gang en hulle wou nie die hele liggaam wys nie, maar die hare was genoeg. Sy was nog in dieselfde posisie met haar hande wat iets of iemand wou afkeer, soos hulle haar uit die dam gehaal het. Die (geregtelike) doodsondersoek sal nog so twee weke duur voordat ons haar kan begrawe,” het sy met betraande oë gesê.
Anoeshka laat haar ouers, sibbe, ouma en dogtertjie, Michaela (5), agter.
Lees meer oor Anoeshka in die TygerBurger van Woensdag 12 Oktober.