Elke oggend, douvoordag, wag die kinders by `n kleuterskool in Brackenfell opgewonde vir hul gunsteling-vierpootvriendjie om sy verskyning te maak.
Sy naam is Luka, die kostelike goue labrador met die mooi geaardheid en groot bruin oë.
Sodra pa Koos Claassen soggens stoep toe stap vir sy oggendkoffie, glip Luka uit en hol al stertwaaiende na Kidz Academy reg langs sy huis in Proteahoogte.
Voor die hek gee hy `n paar blaffies om te laat weet hy is daar.
“Hy hou ook nie daarvan om te lank te wag voor iemand die deur vir hom oopmaak nie. Ek dink hy kom weg met baie dinge omdat hy so oulik is. Ons kan ons nie `n dag sonder hom voorstel nie,” sê die skoolhoof, Nicolene Bothma, oor die vriendelike hond wat al sedert sy babadae by die skooltjie kuier.
“Met die intrapslag draf hy dadelik na die babakamer om `n ogie oor die babas te gooi. Vandaar gaan maak hy `n draai in elke klassie om hallo te sê. Hy is baie nuuskierig om te sien wat die kinders doen.”
Hy sit geduldig terwyl klein handjies sy kop streel of sagte woorde in sy oor fluister. Sommige kinders lees vir hom storieboeke, en ander druk hul gesiggies in sy donsige pels.
“Hy praat en gesels met ons, en gaan lê dan sommer onder `n tafel,” vertel sy.
Meer as net `n hond
“As ek nou dink aan watter maatjie in ons kleuterskool regtig die meeste impak gemaak het op ons as onderwysers en ook die kinders, kom net een naam op by ons op, Luka. Hy is altyd in `n goeie bui, altyd reg vir ‘n speletjie en bring liefde net waar hy gaan. Hy kan enige kleinding wat die dag bietjie hartseer voel binne sekondes laat skater van die lag. Hy is meer as net ‘n hond – hy is `n vriend en `n trooster.”
Met die viering van sy vierde verjaarsdag onlangs, het hy vir die kinders malvalekkers gebring en hulle het vir hom prentjies geteken en op `n lekker groot been trakteer.
“Liefde teenoor diere is só belangrik om vriendelikheid, empatie en deernis in ons kinders te kweek, hulle te leer om vir alle lewende wesens te sorg en hulle te respekteer.”
Teen middagete gee Luka `n paar laaste koebaai-lekke en draf rustig terug huis toe, sy werk vir die dag voltooi.
Môreoggend sal hy weer daar wees, reg om harte sag te maak.

`n Drukkie vir hul beste vriend

Luka het sy vierde verjaarsdag by die skool gevier.






You must be logged in to post a comment.