Die herrie is los onder kat-eienaars in Sonkring en Kaapsig nadat verskeie katte na bewering die afgelope tyd deur drie losloperhonde afgemaai is.
Die kwessie was verlede week ’n brandpunt van bespreking op sosiale media-platforms in Brackenfell, waar honderde kommentare deur inwoners gelewer is oor die honde.
Kat-eienaars beweer dat die honde, twee baster-dalmasiërs en ’n Anatoliese herdershond, gereeld oor hul eienaar se heining in Frolichstraat spring om dan die katte in Kaapsig en selfs Sonkring te terroriseer.
Die honde word glo gereeld in die strate opgemerk en verskeie foto’s in dié verband is op sosiale media geplaas.
“Sedert 2016 is daar baie katte verskeur in ons omgewing en die een ding wat al die voorvalle gemeen het, is dat dieselfde drie honde altyd betrokke was,” sê ’n inwoner, Mornay Walters. Sy buurman se kat is voorverlede week in hul oprit deur dié honde verskeur. “Die drie honde beweeg in ’n trop en daarom word die katte baie wreed en gewelddadig doodgemaak,” voeg hy by.
Op 12 Maart om 01:30 het Heinrich Annandale wakker geword van die geskreeu van ’n man reg voor sy huis in Sonkring.
“Toe ek buite kom, het my buurman die straat afgestap gekom met die lewelose lyfie van my kat, Tommy, in sy hande.
“Hy het Tommy aan die agterpote vasgehou en sy slap lyfie het op so ’n manier gehang en aan sy wonde kon ek dadelik sien dat hy morsdood was,” sê Annandale.
“My buurman het geskok aan my verduidelik wat gebeur het. Hy het uitgekom omdat al die honde in die straat, insluitend syne, geblaf het. Voor my huis het hy drie honde gewaar wat my kat onder die buurman se kar ingejaag het.
“Tommy lê altyd en slaap in ’n potplant reg voor my voordeur; dit was sy spot. Die honde het al rondom die kar gehardloop en Tommy verwilder. Tommy is toe uit onder die kar in die straat af met al drie honde en my buurman agterna. Maar hy was te laat. die drie het beurte gemaak om Tommy te byt met die groot hond wat die laaste noodlottige byt ingekry het,” sê hy.
Albei die mans het sake aanhangig gemaak by wetstoepassing, wat weer aan TygerBurger bevestig het hulle is bewus van die klagte.
“Volgens die DBV kan hulle nie die saak ondersoek nie, omdat die diere nie verwaarloos word nie. En wetstoepassing het slegs ’n waarskuwing aan die eienaar uitgereik en dít terwyl die honde nog steeds daagliks in die strate rondhol. Dis onaanvaarbaar!” sê hy.
Inwoners vrees nie net vir die veiligheid van hul katte nie, maar ook vir hul kinders en huiswerkers.
“Moet ons dan wag totdat ’n mens aangeval word voordat daar ernstig aandag aan die probleem geskenk word?” vra Walters.
Annandale het met behulp van sosiale media ’n beroep op alle kat-eienaars in Sonkring gedoen om enige ander voorvalle by die DBV en wetstoepassing aan te meld.
“Die honde is ongelukkig katjagters – hulle is uiters effektief en almal se katte wat nie te alle tye in die huis gehou word nie, is in gevaar.
“Daarom is hierdie ’n noodkreet aan alle kat-eienaars om ’n saak te begin teen die man om sy honde te verwyder of sy muur hoër te bou – wat nou onvoldoende is om die honde binne te hou,” het Annandale gesê.
Die eienaar van die honde, Petrus Wilders, het verlede week aan TygerBurger gesê dat hy bewus is daarvan dat sy honde uit die erf uit “ontsnap”, maar dat hy glad nie die aanvalle op die katte goedpraat nie.
Hy is egter raadop met sy honde.
“Ek het ’n hoë heining van ses voet om my huis, maar hulle kom nog steeds oor. Dis asof hulle vlerkies het!” sê hy.
Hy het bygevoeg dat hy al gesien het hoe sy Anatoliese herdershond, Rufus, met sy pote oor die heining klim.
Wilders het gesê hy sal die draad bo-op die muur om sy huis met nog twee voet lig.
“Ek sal moet vasstel waar die honde uitkom en hoe ek dit kan regstel, maar wil nie graag van my honde ontslae raak nie.
“Hulle is saggeaarde honde en sal nooit ’n mens byt nie. Hulle raak dan nie eens aan my katte nie. Hulle skrik ten minste inbrekers in die straat af,” sê hy. ’n Inspekteur by die DBV het bevestig dat die voorvalle by hulle aangemeld is.
“As DBV kan ons die welsyn van die katte ondersoek in terme van die Wet op Dierebeskerming. Maar om die saak suksesvol te ondersoek het ons beëdigde verklarings nodig van die betrokke kat-eienaars en ooggetuies,” het hy gesê.