Selfs vetplante sal vrek in dié park’
Dit is ‘n absolute skande hoe die westekant van die Jack Mullerpark in Bellville verwaarloos word. Selfs die vetplante se blare is grys en omgekrul omdat dit seker nog nooit hierdie somer water gekry het nie.
Die watertenks kan maklik gevul word uit die triljoene liters water uit die gruisgat by die Tyger-Waterfront. Die bestuur moet absoluut die blaam dra omdat hulle die reputasie het dat hulle vir jare nie probleme oplos nie. Dreine lek en loop oor in paadjies, infrastruktuur en watersproeiers werk nie, die dam bly verstop met afval en onkruid en molle neem oor.
Die laaste paadjies se skerp rande is ‘n gevaar vir stappers, wat hulle kan beseer.
Al hierdie probleme kan maklik gefinansier word as hulle drie minder wagte daar het. Die wagte het in elk geval nie nut nie, want dit is duidelik daar is sewe eenmeter hoë aalwyne gesteel uit die noordelike blombedding want net die gate is daar. Hoe het iemand daarmee weggekom?
Ons as publiek verdien (en betaal vir) beter diens.
Bennie, Boston