Polisieduikers soek Vrydag aan die anderkant van die Riverside Gardens-brug.FOTO: Carina Roux


Die liggaam van Theodore Sylvester (30) van Kalkfontein wat verlede Donderdag (18 Julie) ten tyde van gure weer in die sterkvloeiende Kuilsrivier-kanaal beland het, is Maandagoggend deur die Stad se brandweerdienste gevind.

AO Liesel Beukes, plaaslik polisiewoordvoerder, sê ’n reddingspan van die brandweer het om 11:37 op die liggaam in die kanaal agter Riverside Gardens en naby aan die Stellenbosch-hoofverkeersweg afgekom.

Sy het bevestig dat ’n geregtelike doodsondersoek geopen is. “Familielede van die afgestorwene wat op die toneel was, het bevestig dat die liggaam dié van die vermiste man is,” sê Beukes.

Theo Sylvester wou blykbaar die laagwaterbruggie vir voetgangers tussen Gersham en Kalkfontein oorsteek toe hy in die water beland het.

Polisieduikers begin Vrydagoggend hul soektog naby die Riverside Gardens-brug.

Die voetgangerbrug tussen Gersham en Kalkfontein ’n dag nadat Theo Brinkhuys meegesleur is.

Polisieduikers soek Vrydag aan die anderkant van die Riverside Gardens-brug.FOTO’S: Carina Roux

Eshleen Daniels, ’n niggie van Sylvester, het Vrydag tydens die soektog na haar neef vertel die voorval moes Donderdag kort voor 11:00 gebeur het omdat sy kort daarna ’n oproep van ’n vrou ontvang het wat naby die kanaal was toe Sylvester meegesleur is.

Die water het ten tyde van die voorval blykbaar tot bo-oor die bruggie gevloei.

Kop gegstamp

Sylvester het ná bewering sy kop gestamp nadat hy geval het en is toe deur die sterk stroom meegesleur.

Beukes het Vrydag aan TygerBurger gesê volgens ’n ooggetuie wou die vermiste (Sylvester) waarskynlik net die kanaal oorsteek toe hy geval, sy kop gestamp en toe stroomaf meegevoer is.

Beukes het toe bevestig die polisie se duikeenheid het Donderdagmiddag reeds uitgekom, maar die duikers was nie in die water nie omdat die stroom te sterk was.

Ebrahim Sawant, wyksraadslid, het Vrydagoggend tydens die soektog naby die Riverside Gardens-brug gesê die watervlak het Donderdag ook tot net-net bo-oor hierdie brug, wat ’n hele paar honderd meter stroomaf van die voetgangerbrug is, gestyg. Volgens Sawant is ’n skoen en ’n baadjie van Theo Donderdag gevind.

Sawant het Donderdagmiddag ’n boodskap uitgestuur dat die polisieduikers eers die soektog vir hul eie veiligheid Vrydagoggend voortsit.

Theo se ma, Charlotte Brinkhuys, het Vrydag kort nadat polisieduikers met ’n bootjie die gedeelte van die kanaal tussen die Riverside Gardens-brug en die Stellenbosch-hoofverkeersweg begin fynkam het, langs die kanaal kom staan en wag op nuus oor haar seun.

Brug

Daniels het Vrydagmiddag laat gesê ’n hommeltuig is die middag ingespan om met die soektog te help, maar die poging is gou opgeskort omdat die wind te sterk was.

Die soektog het oor die naweek voortgeduur met onder meer ’n polisiehelikopter en nooddienste van die Stad.

Daniels en nog ’n familielid het Maandag Sylvester se liggaam gaan uitken.

Sy sê spanne van die brandweer het die oggend te voet aan weerskante van die kanaal gesoek toe die liggaam gevind is.

Daniels sê hoewel dit ’n groot skok vir Sylvester se ma was, is die familie baie verlig dat sy liggaam wel gevind is.

Sy sê die gemeenskap het al vantevore versoek dat die voetgangerbrug veiliger gemaak moet word. “As die brug bietjie hoër kan wees en reëlings opgesit kan word, sal dit baie help.”

Sawant sê die probleem is by die Stad aangemeld. “Ons is bewus daarvan en daar was al gesprekke met amptenare om te kyk wat hulle kan doen. Hierdie insident maak dit net nog dringender vir ons om onmiddellik aandag daaraan te gee.

You need to be Logged In to leave a comment.